‘The Crown’ kies sy Will en Kate

Meg Bellamy sal die rol van Kate Middleton vertolk. (Foto via BBC)

’n Onbekende aktrise sal die rol van Kate Middleton vertolk in die bekroonde Netflix-reeks The Crown se sesde en laaste seisoen, berig BBC.

Die 19-jarige Meg Bellamy het dié gesogte rol losgeslaan nadat sy selfopgeneemde oudisievideo’s op sosiale media ingestuur het om in aanmerking te kom vir dié rol.

Ed McVey (21) en die 16-jarige Rufus Kampa sal die rol van prins William op verskillende ouderdomme in die laaste seisoen vertolk.

Ed McVey sal die rol van prins William tydens sy tienerjare vertolk. (Foto via BBC)

Al drie jong akteurs sal in The Crown hul eerste professionele televisieverskyning maak, berig People.

Netflix het aanvanklik aangekondig dat die bekroonde semi-fiktiewe drama wat geskoei is op die lewe van die Britse koninklike familie, ná vyf seisoene sou eindig. Die vervaardigers het egter van plan verander aangesien ’n sesde seisoen nodig is om “reg te laat geskied aan die rykdom en kompleksiteit van die storie”.

Die laaste seisoen sal die verhaal van koningin Elizabeth II se bewind in die laat 1990’s tot die vroeë 2000’s sowel as die nasleep van prinses Diana se dood vertel.

Rufus Kampa sal die rol van ‘n jonger van prins William vertolk. (Foto via BBC)

Bellamy sal die rol van ʼn jong Kate Middleton as student aan die St. Andrews Universiteit in Skotland vertolk voordat sy prins William in 2001 ontmoet en eindelik die hertogin van Cambridge word.

Kampa sal die rol van ʼn jong prins William vertolk in episodes wat wys hoe die gesin prinses Diana se dood hanteer het, terwyl McVey die prins tydens sy tienerjare sal vertolk.

Die vyfde seisoen van The Crown word in November vanjaar op Netflix bekendgestel. Lees meer hiér oor dié komende seisoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.