Tiener sterf in swaardaanval in Londen

Die verdagte met die swaard (Foto via verskeie profiele op X)

ʼn 14-jarige seun is Dinsdag dood toe ʼn man die tiener, twee polisiebeamptes en nog twee persone met ʼn swaard aangeval het. Die straataanval het in die ooste van Londen plaasgevind, het die polisie gesê.

Die man het net voor 07:00 (0600 GMT) oënskynlik ʼn Samoerai-agtige swaard gebruik in die aanval in die Hainault-distrik.

Die polisie het gesê hulle het ʼn 36-jarige man in hegtenis geneem. Hulle het skokstokke gebruik. Die voorval word voorlopig nie met terreuraktiwiteit verbind nie, het hulle gesê.

Hoofsuperintendent Stuart Bell, van Londen se metropolitaanse polisie, het gesê al vyf slagoffers is hospitaal toe geneem. Die twee polisiebeamptes sal operasies moet ondergaan weens “omvattende beserings”. Dié twee beamptes en die twee lede van die publiek het egter nie lewensgevaarlike beserings opgedoen nie.

“Dit is met groot hartseer om aan te kondig dat een van die persone wat in die voorval beseer is, aan hul beserings beswyk het,” het Bell aan verslaggewers op die toneel gesê. “Hy is na ʼn hospitaal geneem en het kort daarna gesterf.”

Bell het die voorval as “absoluut afgryslik” beskryf en gesê spesialisbeamptes ondersteun die seun se familie.

Eerste minister Rishi Sunak het ook die voorval as “skokkend” beskryf. “Hierdie tipe geweld het geen plek op ons strate nie,” het hy in ʼn plasing op X (Twitter) gesê. “Baie dankie aan die nooddienste vir hul voortgesette reaksie. Ons bring ook hulde aan die besonderse dapperheid deur polisiebeamptes op die toneel.”

Beeldmateriaal en foto’s op sosiale media van die voorval wys die man in ʼn geel trui met die wapen.

Een inwoner, wat anoniem wou bly, het gesê sy het agter ʼn venster weggekruip toe die verdagte buite haar huis staan vir die polisie geskree het: “Glo jy in God?”

“Ons was baie bang en het probeer wegkruip. Hy het reg langs ons huis gestaan. Hy sou ons gesien het as hy opgekyk het. Ons het nie geweet wat om te doen nie.”

Ander ooggetuies het gesê twee polisiebeamptes het die man agterna gesit. Hulle het hom beveel om die wapen neer te sit.

Die polisie in Engeland, Skotland en Wallis is gewoonlik nie gewapen nie, maar dra skokstokke om verdagtes aan te keer.

Sadiq Khan, burgemeester van Londen, sê hy is “absoluut verslae” oor die voorval en is in kontak met die stad se polisiekommissaris.

Sunak het verlede week die burgemeester se statistieke oor mesaanvalle in die Britse hoofstad veroordeel. Volgens amptelike syfers het mesaanvalle in Londen met 20% gestyg in 2023 met 14 577 voorvalle. Dit is een persent laer as voorpandemie-vlakke in die jaar tot Maart 2020.

In Engeland en Wallis is daar ʼn 7%-toename in mesaanvalle met 49 489 voorvalle. Byna 29% van dié voorvalle vind in metropolitaanse gebiede plaas, aldus die kantoor vir nasionale statistieke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.