Tientalle beseer in reuseontploffing in Seychelle

(Foto: Mervyn Marie/AFP)

Altesame 66 mense is Donderdag beseer en talle geboue het ineengestort ná ʼn reuseontploffing by ’n plofstofdepot in Seychelle. Die voorval het die president van die land genoop om ʼn noodtoestand vir die dag aan te kondig.

Die eilandgroep – bekend vir sy idilliese wit strande en luukse toerisme – sukkel ook om kop bo water te hou met oorstromings wat reeds die lewe van twee mense geëis het, het pres. Wavel Ramkalawan gesê.

Die ontploffing het in die Providence-nywerheidsgebied in Mahe plaasgevind – die grootste eiland in die Indiese Oseaan – en het groot skade op die terrein en aan omliggende gebiede aangerig.

“Dit is etlike kilometer ver gehoor en die krag van die ontploffing het vensters van nabygeleë huise, banke en winkels in skerwe laat spat.”

In TV-beeldmateriaal kan gesien word hoe gebreekte glas en metaalplate in stukke op die terrein verspreid lê.

(Foto: Mervyn Marie/AFP)

“Altesame 66 mense is in die hospitaal opgeneem,” het Ramkalawan gesê.

Alle skole en winkels was Donderdag gesluit om nooddienswerkers toe te laat om noodsaaklike werk te verrig. Slegs werkers in noodsaaklike dienste, en diegene wat reis, is vrye beweging toegelaat.

Ramkalawan het later dieselfde dag aangekondig dat die noodtoestand opgehef is.

“Winkels kan heropen en normale beweging van die publiek kan hervat word, met die uitsondering van die Providence-nywerheidsgebied,” het die president aan verslaggewers gesê.

“Baie mense is in skok en ons probeer om sielkundige ondersteuning aan hulle te bied,” het Ramkalawan gesê. Hy sê die ontploffing kon veel ernstiger gewees het, as dit tydens werkure plaasgevind het.

“Seychelle het vandag ʼn les geleer en ons moet iets doen om die situasie te verander,” het hy gesê en onderneem om die bergingstandaarde vir plofstof in die land te heroorweeg.

Die polisie het ʼn ondersoek na die oorsake van die ontploffing van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

Ek wonder waarvoor sal die eiland soveel plofstof vervaardig en berg?

Bolandse Nooi ·

Hoeveel arme onskuldige diere is gedood? Mense dink altyd net in terme van hoeveel mense lewens geraak is, maar nooit aan onskuldige diere wat op die verkeerde plek, op die verkeerde tyd was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.