TikTok gedagvaar ná meisies sterf

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die sosialemediawebwerf TikTok word in Kalifornië in die VSA gedagvaar ná kinders gesterf het toe hulle aan ʼn “Blackout Challenge” deelgeneem het. Dié uitdaging laat kinders hulself wurg totdat hulle hul bewussyn verloor.

Die hofsaak is verlede week in Los Angeles ingedien en beskuldig TikTok dat hy “doelbewus en herhaaldelik” die “Blackout Challenge” aan kinders gestuur het wat verlede jaar tot die afsterwe van ʼn agtjarige meisie in Texas en ʼn negejarige meisie in Wisconsin gelei het.

“TikTok moet aanspreeklik gehou word dat hy dodelike inhoud aan dié twee jong meisies gestuur het,” sê Matthew Bergman, ʼn prokureur by die regsentrum vir slagoffers van sosiale media. Bergman het die hofsaak ingedien.

“TikTok het miljarde dollar belê om doelbewus produkte te ontwerp wat gevaarlike inhoud uitstuur. Die netwerk weet dit is gevaarlik en kan tot die dood van gebruikers lei.”

TikTok, wat besit word deur die Chinese ByteDance, het nie dadelik reageer op ʼn versoek vir kommentaar nie.

Die hofsaak voer aan TikTok se algoritme het die Blackout Challenge aan elkeen van die twee meisies bemark. Hulle is dood nadat hulle hulself gewurg het, die een het ʼn tou en die ander een het ʼn hondeleiband gebruik.

Volgens die saak word kinders in Italië, Australië en ander lande se sterftes ook verbind aan die Blackout Challenge.

TikTok het al talle uitdagings bemark waar gebruikers hulself verfilm wanneer hulle aan gevaarlike aktiwiteite deelneem, soos die “Skull Breaker Challenge” waar mense se bene onder hulle uitgeskop word wanneer hulle spring, sodat hulle val en hul koppe stamp.

Met die “Coronavirus Challenge” moes gebruikers lukrake items en openbare oppervlaktes tydens die pandemie lek. In die “Fire Challenge” moes items met ʼn vlambare vloeistof bedek word en dan aan die brand gesteek word, aldus die dokumente in die hof.

Die dagvaarding versoek ʼn regter om TikTok te verhoed om kinders deur sy algoritme te lok en gevaarlike uitdagings te bevorder en dat die sosialemediawebwerf skadevergoeding betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariana ·

Elke jong kind wil deesdae op Tik Tok en ander sosiale platforms wees. Beperk die toegang tot op 18 jaar, maar hulle is so slim, gee seker fake id’s.

Juanita ·

Dit is nie TikTok se skuld nie. Ek is 42 en as hoërskool meisies het ons presies dieselfde ding gedoen in die 90’s toe daar geen TikTok was nie. Dis maklik om vinger te wys. Leer die kinders vooraf van die gevare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.