Trein ontspoor ná swaar reën

Die owerhede Woendag naby die toneel by Stonehaven in Skotland. (Foto: Twitter)

’n Trein het in Aberdeenshire in die noordooste van Skotland ontspoor. Die voorval word tans as uiters ernstig bestempel, hoewel dit nie in dié stadium duidelik is presies hoeveel passasiers in die voorval beseer is nie.

CNN berig die trein het Woensdagoggend by Stonehaven ontspoor ná swaar reën in die streek. Dit word vermoed dat grondverskuiwings moontlik die oorsaak kon wees.

Die Skotse owerhede Woensdag op pad na die toneel in Stonehaven (Foto: Jane Barlow/PA via AP)

Minstens ses ambulanse, ’n lugambulans en verskeie polisievoertuie het vanoggend na die toneel gehaas waar ’n groot rookwolk in die lug gehang het.

Luidens inligting was daar 12 mense aan boord die trein ten tyde van die voorval – ses passasiers en ses bemanningslede. Die trein se lokomotief en minstens drie treinwaens het vermoedelik die treinspoor verlaat en teen ’n wal afgegly.

Nicola Sturgeon, eerste minister van Skotland, het intussen aan parlementslede gesê inligting dui daarop dat ernstige beserings aangemeld is.

Volgens Sturgeon het die ligging waar die ongeluk plaasgevind het dit egter vanoggend vir reddingswerkers moeilik gemaak om toegang tot die toneel te kry.

Vloedwater Woensdag in Stonehaven, Skotland. (Foto: Martin Anderson/PA via AP)

BBC berig Boris Johnson, die Britse eerste minister, het intussen ook sy medelye met die slagoffers uitgespreek. “Ek is  baie jammer om van die baie ernstige voorval in Aberdeenshire te hoor en my gedagtes is met almal wat geraak is.”

Die plaaslike spoorweginstandhoudingsowerheid Network Rail in Skotland het aangedui dat hulle in dié stadium saam met die nooddienste werk.

“Dit is nog te vroeg om die presiese aard en erns van die voorval te bevestig. Meer besonderhede sal beskikbaar gemaak word soos dit bekend raak,” het die owerheid in ʼn twiet gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.