TV-nuuslegende Barbara Walters oorlede

Barbara Walters (8 Mei 2008) (Foto: Paul J. Richards/AFP)

Die baanbreker televisiejoernalis Barbara Walters is in die ouderdom van 93 oorlede.

Sy het die manlik-gedomineerde bedryf op sy kop gekeer toe sy die eerste vrou geword het wat ʼn nuusprogram in die aande in die VSA aangebied het. Haar voormalige werkgewer ABC het laat Vrydagaand die nuus oor haar afsterwe bevestig.

Walters het onderhoude met ʼn rits Amerikaanse presidente, buitelandse leiers soos Anwar Sadat en Fidel Castro en A-lys bekendes gevoer. Sy het ʼn uiters suksesvolle loopbaan gehad wat oor vyf dekades gestrek het.

ABC het nie die oorsaak van haar afsterwe bekendgemaak of gesê waar sy oorlede is nie.

Sy het 12 Emmy-toekennings ontvang.

Walters het in 2014 afgetree met ʼn laaste verskyning op die dagprogram The View – ʼn program wat sy in 1997 begin het.

Sy het ʼn patroon geskep vir onderhoude met politici en bekendes en het baanbrekerswerk gedoen vir vroue in die bedryf.

“Ek is vandag so trots om al die jong vroue te sien wat nuus maak en oor die nuus berig,” het sy met haar laaste verskyning op The View gesê. “As ek enigiets gedoen het om dit te help gebeur, is dit my nalatenskap.”

Haar nuusloopbaan het in 1961 in alle erns begin toe sy by die NBC se ontbytnuus- en vermaaklikheidsprogram Today aangesluit het.

Sy was die eerste vrou wat ʼn Amerikaanse aandnuusprogram aangebied het toe sy in 1976 by ABC Evening News begin het – sy het ʼn ongekende salaris van $1 miljoen per jaar verdien. Drie jaar later is sy as die mede-aanbieder van die nuusprogram 20/20 aangewys.

Voor haar aftrede het sy onderhoude gevoer met elke Amerikaanse president en presidentsvrou sedert Richard Nixon. Sy het ook onderhoude gevoer met politieke leiers soos Boris Jeltsin, Margaret Thatcher, Indira Gandhi, Saddam Hoesein en Wladimir Poetin, en bekendes soos Michael Jackson, Angelina Jolie en Harrison Ford.

Sy is in 1929 in Boston gebore en het in 1953 haar graad in Engels verwerf aan die Sarah Lawrence College in New York.

Sy het vir ʼn kort rukkie lank as ʼn sekretaresse gewerk en daarna as ʼn skrywer by NBC voor sy in 1974 die eerste vroulike mede-aanbieder geword het vir die Today-program. Twee jaar later het sy by ABC aangesluit.

Sy is vier keer met drie mans getroud (sy het twee keer met een van haar mans getrou).

Een van die bekendes wat op haar laaste episode van The View verskyn het, was Oprah Winfrey.

“Toe ek ʼn oudisie gedoen het vir my eerste televisie-pos, het ek nie geweet wat om te doen nie, so ek het myself verbeel ek is Barbara Walters,” het Winfrey vertel. “Ek het soos Barbara gesit en my bene soos Barbara gekruis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.