Twee kry trekpas oor foutiewe weervoorspelling

‘n Destydse vuurwerkvertoning in Boedapest. (Foto: Peter Kohalmi/AFP)

Twee Hongaarse weervoorspellers is die trekpas gegee nadat ʼn onakkurate weervoorspelling glo daartoe gelei het dat ʼn vuurwerkvertoning ter viering van een van die land se belangrikste nasionale vakansiedae gekanselleer is.

Lazlo Palkovics, minister van tegnologie, het Maandag vir Kornelia Radics, hoof van die nasionale meteorologiese dienste (NMS), en haar adjunkvoorspeller, Gyula Horvath, afgedank sonder om ʼn amptelike rede daarvoor te verskaf, berig AFP.

Die land se weerdiens het die afgelope naweek voorspel dat daar om 21:00 Saterdag hewige storms in die hoofstad Boedapest moontlik is, berig The Washington Post. Dit het organiseerders van die vuurwerkvertoning genoop om die gebeurtenis, wat jaarliks deur meer as een miljoen mense gekyk word, te kanselleer.

Hongaarse media het die land se weerdiens erg gekritiseer oor sy foutiewe weervoorspelling nadat die verwagte storm by die hoofstad verbygetrek en na die suide van die land beweeg het.

Die plaaslike nuuswebwerf Origo het gesê die NMS het “misleidende inligting gegee oor die omvang van die storm, wat daartoe gelei het dat die span wat verantwoordelik is vir veiligheid [by die vuurwerkvertoning] mislei is”.

Die vertoning, wat bestempel is as een van die grootstes in Europa, is vir later vandeesweek herskeduleer.

Die NMS het Sondag om verskoning gevra vir die flater en bygevoeg dat daar “ʼn faktor van onsekerheid eie aan dié beroep is”.

Dinsdagoggend het altesame 17 lede van die weerdiens se bestuur in ʼn verklaring geëis dat hul afgedankte kollegas so gou moontlik weer aangestel word. Volgens die bestuur was die afdankings polities gemotiveerd en het die weerdiens die bes moontlike inligting tot sy beskikking bekend gemaak.

“Ondanks die druk van besluitnemers, het ons kollegas wat ons betref die bes moontlike inligting verskaf en is geensins verantwoordelik vir die beweerde skade wat aangerig is nie,” lui die verklaring.

Die NMS voer aan indien hy sy onafhanklikheid as ʼn instansie wil handhaaf, is dit nodig om ʼn onafhanklike komitee te stig om die dag se gebeure en besluitnemingsprosesse te ondersoek sodat Radics en Horvath eindelik vrygespreek kan word van die blaam.

Die land se amptelike opposisieparty het kort voor vanjaar se beplande vuurwerkvertoning gevra dat dit gekanselleer moet word, aangesien dit “ʼn nuttelose mors van geld is” in ʼn tyd waar die land se ekonomie sukkel.

In 2006 het die vuurwerkvertoning verwoesting gesaai nadat ʼn storm oor Boedapest toegesak het. Altesame vyf mense is dood, terwyl honderde beseer is toe grootskaalse paniek weens die storm ontstaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henri ·

Nou het ek alles gesien. As politiek nou selfs in die weer inmeng! Maar wag ‘n bietjie, politici blameer reeds “klimaatsverandering” vir al die wêreld se probleme.

AndrewL ·

Belaglik. Ek het al verskeie baie groot geleenthede georganiseer.

Weer voorspellings is bloot voorspellings. Die organiseerders behoort teen die tyd te weet dat daar verskeie instansies is wat die voorspellings doen en dat mens meer as een voorspelling raadpleeg.

Daar is dikwels verskille waarby jy maar moet aanpas want mense reël nie die weer patrone nie.

Juanita ·

Gee vir hulle medaljes omdat hulle die vuurwerke vertoning gestop het en verban vuurwerke wereldwyd.

Niklaas ·

Wel, iemand moet die skuld kry. Al is hul dalks nie heeltemal skuldig nie. Dis totaal moontlik en menslik om ‘n fout met die voorspellings te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.