Twee sterf toe man groep met mes aanval

Noodwerkers op die toneel van die mesaanval in Kawasaki naby Tokio. (Foto: Kyodo News via AP)

Twee laerskoolleerders is dood en nog 16 mense beseer toe ʼn man Dinsdagoggend ʼn groep mense by ʼn bushalte buite Tokio in Japan met ʼn mes aangeval het.

Volgens ooggetuies was ʼn groep skoolmeisies en volwassenes op pad na ʼn skoolbus naby Noborito Park in die stad Kawasaki toe die man op hulle afgestorm en geskree het “Ek sal julle doodmaak!”

Die man, in sy 50’s, het links en regs mense met die mes begin steek. Ooggetuies het beskryf hoe kinders en volwassenes op die grond neergeval het, met sommige wie se klere met bloed bevlek was. Talle kinders het geskree en weghardloop met skooltasse en boeke wat verspreid oor die toneel gelê het.

Wetstoepassers kon daarin slaag om die aanvaller vas te trek, maar hy is kort daarna dood weens messteke aan sy nek wat hy self toegedien het.

‘n Lugfoto van die toneel van die mesaanval in Kawasaki naby Tokio. (Foto: Jun Hirata/Kyodo News via AP)

Yasuko Atsukata, ʼn ooggetuie, het vertel hoe sy besef het daar is groot fout. “Ek het ʼn gil gehoor en omgedraai om te kyk wat gebeur het. Dit was nie ʼn normale stemtoon nie,” het Atsukata gesê. Sy sê sy het gesien hoe een mens op die grond neerval en toe ʼn tweede een. “Hul wit hemde het rooi geword nadat hulle geval het, en toe het ek besef hulle is gesteek.”

Masami Arai, ʼn beampte by die Kawasaki-stadskantoor, het gesê 16 mense, meestal skoolmeisies van ʼn plaaslike Rooms-Katolieke skool, is beseer. Arai het gesê drie van die beseerdes is in ʼn ernstige toestand, terwyl die 13 ander se beserings nie lewensbedreigend is nie.

Polisiebeamptes van die Kanagawa-prefektuur het bevestig Hanako Kuribayashi (11), ʼn gr.6- leerder van Tokio, het in die aanval gesterf. Hospitaalbeamptes het later ook Kuribayashi se dood bevestig, asook die dood van ʼn man in sy 30’s. Volgens hospitaalpersoneel het albei die oorledenes meswonde in hul kop, bors en gesig opgedoen.

Dokters by die St. Marianna-universiteitshospitaal het bevestig ʼn man in sy 50’s het in die hospitaal gesterf nadat hy met nekbeserings daarheen gebring is. Volgens mediaberigte is dié man die aanvaller in die voorval.

Die polisie wou nie onmiddellik meer besonderhede oor die aanvaller bekendmaak nie en sy identiteit en die motief vir die aanval was nie onmiddellik duidelik nie.

Noodwerkers op die toneel van die mesaanval in Kawasaki naby Tokio. (Foto: Kyodo News via AP)

Shinzo Abe, Japan se president, het sy afgryse oor die voorval uitgespreek en gesê alle nodige stappe sal gedoen word om kinders se veiligheid te verseker.

Hoewel Japan een van die laagste misdaadsyfers ter wêreld het, het verskeie hoëprofiel-aanvalle al in die land plaasgevind. Een daarvan was in 2016 toe ʼn voormalige werknemer van ʼn tehuis vir gestremdes na bewering 19 mense vermoor en nog 20 ander beseer het.

In nog ʼn voorval in 2016 het ʼn man vier mense by ʼn biblioteek in die noordooste van die land met ʼn mes gesteek omdat hulle glo nie sy vrae na wense beantwoord het nie. Niemand is in dié voorval dood nie.

In 2008 is sewe mense dood toe ʼn trokbestuurder in Tokio se sakesentrum eers in ʼn groep voetgangers ingeploeg en toe verbygangers met ʼn mes gesteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.