Uitsaaikanale gou ook op WhatsApp

(Foto: Jonathan Raa/ NurPhoto/AFP)

Die gewilde boodskapdiens WhatsApp het bekend gemaak dat hy ʼn nuwe funksie, genaamd “kanale” (oftewel channels, soos daar in Engels daarna verwys word), gaan bekendstel.

Die sosialemediareus het Donderdag begin om die nuwe funksie uit te toets waarmee uitgesoekte organisasies boodskappe na volgelinge kan uitsaai.

Die internasionale bekendstellingsvennote sluit in die Internasionale Reddingskomitee en die Wêreldgesondheidsorganisasie, asook die sokkerklubs FC Barcelona en Manchester City.

Meta beskryf die funksie as ʼn private uitsaai-instrument en dit beloof om ʼn veilige, betroubare en maklike manier vir gebruikers te bied om belangrike bywerkings of aanvullings van individue en organisasies van hul keuse te ontvang.

Kanale is ontwerp om as eenrigting-kommunikasiemetode te dien. Dit sal administrateurs in staat stel om boodskappe, foto’s, video’s, plakkers en meningspeilings aan hul volgelinge te stuur.

Die inhoud wat op kanale gedeel word, sal gevind word in ʼn nuwe oortjie (tab), genaamd “aanvullings” (updates), wat afsonderlik van die gewone persoonlike en groepgesprekke is.

Volgens AFP kom die debuut terwyl verskeie agentskappe en organisasies ontnugter voel met Elon Musk se Twitter in die lig van geld, prestasieprobleme en dramaties afgeskaalde moderering.

ʼn Video wat Meta gedeel het, wys kanale op WhatsApp kan ingespan word om gebruikers op hoogte te hou van byvoorbeeld wedrenuitslae, sokkerwedstryduitslae, weer en verkeer, en selfs om wenke vir kook of doen-dit-self te deel.

Volgens Meta bly WhatsApp se eerste prioriteit om ʼn veilige private boodskapdiens te lewer. Gebruikers vra egter al jare lank vir só ʼn soort aanvullende diens.

“Ons dink die tyd is uiteindelik reg om ʼn eenvoudige, betroubare en private uitsaai-instrument bekend te stel,” sê Meta.

Die Silicon Valley- tegniese spanlede sê hulle beplan om die beskikbaarheid van kanale geleidelik in die komende maande uit te brei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

muffin ·

Nee dankie ek stel nie belang nie en moet my nie dwing om uitsaai whatsapp betaal nie. ek kyk nie bollie uitstaai nie.

KatjieDeKat ·

Daar is al oorgenoeg uitsaai kanale op ander platforms, ek sien regtig nie hoekom WA dit ook nou nodig het nie. Ten minste kan mens dit ignoreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.