Vera Lynn sterf op 103

Dame Vera Lynn in 2010. (Foto: AP Photo/Lefteris Pitarakis, File)

Dame Vera Lynn, die geliefde sangeres wat Britse troepe se moraal tydens die Tweede Wêreldoorlog help lig het deur vir hulle te sing, het Donderdag in die ouderdom van 103 gesterf.

Die BBC berig die sangeres se familie het ʼn verklaring uitgereik waarin hulle sê die bekende Forces’ Sweetheart het Donderdagoggend tuis met haar familie by haar gesterf. Inligting oor ʼn begrafnisdiens sal later aangekondig word.

Teen die ouderdom van 22 het Lynn reeds meer as ʼn miljoen plate verkoop en is bekend vir snitte soos “We’ll meet again”, “The White Cliffs of Dover”, “There’ll Always Be An England” en “I’ll Be Seeing You”.

Lynn het onlangs die oudste kunstenaar geword om die Britse Top-40-treffersparade te haal, en het haar eie rekord gebreek toe haar album Vera Lynn Greatest Hits weer op die treffersparade in die 30ste plek verskyn het.

Lynn is in 1917 in Londen gebore. Haar sangtalent is op ʼn jong ouderdom raakgesien en op die ouderdom van 11 het sy skool verlaat om voltyds te sing en dans.

Die Britse eerste minister, Boris Johnson, het in ʼn huldeblyk aan die sangeres gesê haar “bekoring en magiese stem het die land gelig in sommige van ons donkerste ure”.

“Haar stem sal voortleef om die harte van generasies wat kom te lig,” het Johnson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johanf ·

RIV, my simpatie aan die familie, nog ń legende met ń goeie hart…….goeie ouderdom…!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.