Verlate skip op Rooisee vaar nog; dalk na Djiboeti gesleep

Die Rubymar wat tans in die Rooisee dryf. (Foto: BBC News)

’n Verlate vragskip wat sedert ʼn aanval deur Jemenitiese rebelle in die Rooisee dryf, sal na verwagting vandeesweek na Djiboeti gesleep word, het die skip se operateur, die Blue Fleet Group, Donderdag aan AFP gesê.

Rubymar, ’n Britse vragskip wat brandbare kunsmis vervoer, is Sondag in ’n missielaanval deur die Iran-gesteunde Houthi-rebelle beskadig.

Die skip se bemanning is na Djiboeti geneem nadat een van die missiele die kant van die skip getref het. Weens die skade aan die skip, het water die masjienkamer binnegestroom en die agterkant van die skip effens laat sink.

Roy Khoury, Blue Fleet se uitvoerende hoof, sê hoewel ʼn tweede missiel die dek van die vaartuig getref het, is daar nie groot skade aangerig nie.

Jemen se Houthi-rebelle het Maandag verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar en gesê dat die skip “die risiko loop om in die Golf van Aden te sink” weens die “groot skade” wat die skip opgedoen het.

Khoury het egter foto’s gedeel van die skip wat steeds in die water dryf, hoewel die agterkant baie laer in die water gesak is.

Volgens Khoury behoort die skip binne die volgende drie dae na Djiboeti gesleep te word.

Khoury het by navraag gesê dat die skip in dié stadium waarskynlik nie sal sink nie, hoewel daar “altyd ʼn moontlikheid is”.

Die skeepsopsporingswebtuiste TankerTrackers.com het ook bevestig dat die Rubymar nie gesink het nie, maar gewaarsku dat die vaartuig brandstofolie lek.

Die aanval op die Rubymar het die grootste skade nóg aan ’n kommersiële skip aangerig sedert Houthi‑rebelle in November op vaartuie begin skiet het.

Die rebelle voer hul skrikbewind in die Rooisee glo ter ondersteuning van die Palestynse bevolking terwyl die oorlog tussen Hamas en Israel in die Gaza-strook voortwoed.

Die skip was laas in die Verenigde Arabiese Emirate geanker en was ten tyde van die aanval na Belarus op pad.

Die 24 bemanningslede het 11 Siriërs, ses Egiptenare, drie Indiërs en vier Filippyne ingesluit. Die 21 999 metriese ton kunsmis wat die skip vervoer, word deur owerhede as “uiters gevaarlik” beskryf.

Maroela Media het vroeër berig die Houthi-rebelle is deel van ʼn anti-Israel‑ en anti-Westerse alliansie.

Hul aanvalle hou ʼn groot bedreiging vir internasionale handel in, aangesien die Rooisee altesame 12% van internasionale maritieme verkeer dra.

Groot vragskepe is reeds om Afrika na die Kaap herlei om aanvalle vry te spring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

“Khoury het egter foto’s gedeel van die skip wat steeds in die water dryf, hoewel die agterkant effens laer in die water gesak is.”

EFFENS? – 1/4 is onder die water, daar is ‘n groot verskil tussen hul “effens” en ons “effens”

Helena ·

Vader daai arme visse onder water…. Hoeveel gif is nou AL vrygelaat…. Genade roer Jul! Gaan sleep die wrak….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.