Verlore ‘Friends’-draaiboek van ashoop gered

Matt le Blanc, Matthew Perry, Jennifer Aniston en Courtney Cox in ‘Friends’. (Foto: Instagram/Friends)

Draaiboeke van twee episodes van die televisiereeks, Friends, wat onlangs in ʼn 60-jarige Britse man se bedkassielaai gevind is, gaan vandeesweek opgeveil word.

Die man, wat verkies om anoniem te bly, is ʼn voormalige personeellid van Fountain Studios in Wembley, Londen, waar die finale twee episodes van die vierde seisoen verfilm is.

Dié episodes, getiteld “The One with Ross’s Wedding” het in 1998 in die Verenigde Koninkryk (VK) afgespeel en wys hoe een van die reeks bekende hoofkarakters, Ross, per ongeluk Jennifer Aniston se karakter se naam eerder as dié van sy bruid voor die kansel uitblaker.

Hanson Ross-afslaers in die VK sal die veiling behartig.

Die draaiboek wat opgeveil word. (Foto: Hanson Ross Auctioneers)

Die Fountain Studios-personeellid het aan Hanson Ross vertel dat hy destyds ʼn administratiewe pos beklee het en die draaiboek in die asblik gevind het, kort nadat die Friends-episodes in hul ateljee verfilm is, berig die BBC.

Die draaiboek het klaarblyklik tussen sy ander dokumente beland, wat hy ʼn in 1999 met sy aftrede in ʼn boks gebêre en eers weer onlangs na 25 jaar per toeval gevind het.

“Hulle het in my bedkaslaai beland en hulle is sedertdien daar. Ek kon hulle maklik uitgegooi het, ek het heeltemal van hulle vergeet,” het hy vertel.

Die draaiboeke word op 12 Januarie opgeveil, en volgens die afslaers sal dit na verwagting vir minstens tussen £600 en £800 (byna R19 000), of selfs meer, verkoop word.

Die anonieme Fountain Studios-personeellid het aan die New York Post gesê hy hoop die draaiboeke word deur “ʼn ware Friends-aanhanger” opgeraap.

Bronne: The New York Post, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.