Verpleegster van moord op babas aangekla

Die vangwa waarin Lucy Letby vermoedelik Maandag vervoer is. (Foto: Oli Scarff / AFP)

Die verhoor van ’n neonatale verpleegster wat vir die moord op sewe babas teregstaan, het Maandag in Brittanje begin. Lucy Letby (32) word ook van poging tot moord op tien ander babas beskuldig.

Sy ontken dat sy vyf seuntjies en twee dogtertjies in haar sorg vermoor het, asook die klagtes van poging tot moord teen haar. Die beweerde voorvalle het tussen Junie 2015 en Junie 2016 by die Countess of Chester-hospitaal plaasgevind waar Letby werksaam was.

Nick Johnson, die prokureur wat die staat se saak lei, sê die neonatale sterftekoers by dié hospitaal is met ander eenhede reg oor die land vergelyk. Oor ʼn tydperk van 18 maande, sedert Januarie 2015, het die aantal sterftes en ernstige terugslae aansienlik by die Countess of Chester-hospitaal se neonatale eenheid toegeneem.

“Konsultante was bekommerd omdat sterwende babas skielik baie agteruitgegaan het. Sommige babas wat terugslae beleef het, het ook nie op die toepaslike behandeling reageer nie.

“Dan was daar ander babas wat ineengestort het, maar dan dramaties herstel het – bo die normale verwagting van dokters,” het Johnson aan jurielede in die Manchester Crown-hof gesê.

Ondersoeke na moontlike oorsake het niks oplewer nie. Daar is egter ontdek dat een gemene deler by al dié onverklaarbare sterftes en siektetoestande betrokke was, naamlik Letby.

Volgens Johnson het die sterftes en terugslae saans toegeneem wanneer Letby aan diens was. Wanneer sy bedags gewerk het, het die voorvalle weer deur die dag toegeneem.

Een verslag voer aan dat twee kinders met insulien vergiftig is. Die enigste redelike gevolgtrekking is volgens die staat dat dit met opset gedoen is.

“Dit was gʼn ongeluk nie.”

Sommiges is glo met lug in hul bloedstroom ingespuit, terwyl ander insulien of te veel melk gevoer is.

Johnson voer aan dat Letby verantwoordelik vir al dié voorvalle en misdrywe is.

Letby word deur altesaam 22 klagtes in die gesig gestaar, aangesien sy na bewering van die babas meer as een keer probeer vermoor het.

Die jongste beweerde moordslagoffer was ʼn seuntjie wat te vroeg gebore is.

“Hy was net ʼn dag oud en het goed gevaar, maar gesterf 90 minute nadat Letby met haar skof op 8 Junie 2015 begin het.

“Mediese kundiges sê sy dood stem ooreen met die opsetlike inspuit van lug of iets anders in die bloedstroom.”

Letby word ook daarvan beskuldig dat sy dié seuntjie se tweelingsussie enkele ure later glo ook probeer doodmaak het.

Die verhoor duur tans voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

My kind was vir drie maande in die neonatale waakeenheid. Hierdie gee my ‘n yskoue rilling teen my ruggraat af.

KatjieDeKat ·

My 2 dogters ook, oudste vir 6 weke en jongste vir 4 dae. Hierdie is die gruwelikste, walglikste boosheid.

BullsBabe ·

O hel…..nog ‘n Beverley Allitt geval…ook British….mmmm

honeybee ·

Wonder wat sou haar rede wees? Miskien kon sy nie self n baba kry nie, en jaloers was omdat ander kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.