Vervaardiger van Fortnite wen regstryd teen Google

(Foto: iStock)

Epic Games, die vervaardiger van gewilde speletjies soos Fortnite, het Maandag ʼn hofstryd teen Google gewen toe ʼn jurie besluit het dat die soekenjinreus onwettige monopoliemag deur sy Google Play Store (vir Android-toestelle) uitoefen.

Die speletjiereus het Google en Apple in 2020 gedagvaar en die tegnologiereuse daarvan beskuldig dat hulle beheer oor hul onderskeie appwinkels, wat apps en ander digitale inhoud aan toestelle verkoop, misbruik.

Google en Apple neem kommissie van alle finansiële transaksies op hul appwinkels, wat klagtes deur ontwikkelaars laat ontstaan ​​het oor “onbillike belasting” wat deur die maatskappye gehef word.

Die uitspraak is ʼn seldsame terugslag vir ʼn Amerikaanse tegnologiereus in ʼn Amerikaanse hof, veral omdat regters onlangs ten gunste van groot tegnologiemaatskappye beslis het wanneer beskuldigings van onwettige monopolieë of misbruik van hul markmag opgeduik het.

Die San Francisco-jurie het net ʼn paar uur geneem om teen Google te besluit en bevind dat die maatskappy verskeie onwettige strategieë gebruik het om sy monopolie op Android-toestelle te handhaaf.

“ʼn Oorwinning oor Google,” het Tim Sweeney, uitvoerende hoof van Epic Games, op X (voorheen Twitter) gesê.

“Ná vier weke van gedetailleerde getuienis in die hof het die Kaliforniese jurie op alle aspekte teen die Google Play Store se monopolie beslis.”

Die saak gaan nou terug na die regter om te besluit hoe om die skade te herstel. Dit kan moontlik daartoe lei dat die Android-bedryfstelsel vir mededingende appwinkels oopgestel moet word.

Google het gesê hy gaan teen die besluit appelleer en die saak kan nog maande of jare voortduur.

“Ons sal voortgaan om die Android-sakemodel te verdedig en diep verbind bly tot ons gebruikers, vennote en die breër Android-ekosisteem,” het Wilson White, Google se visepresident vir regeringsake en openbare beleid, gesê.

Selfone wat van die Android-bedryfstelsel gebruik maak, het ʼn aandeel van ongeveer 70% in die wêreld se slimfoonmark. Slimfoonmaatskappye kan die Android-bedryfstelsel gratis installeer onder die voorwaarde dat Google Play Store op die tuisblad bly en dat ander Google-aanbiedinge vooraf geïnstalleer is.

Tydens die verhoor het dit voorgekom asof Google onverpoos gewerk het om seker te maak dat die Google Play Store die enigste kanaal is om betalings aan derdeparty-toepassings soos Fortnite en ander speletjies te maak.

ʼn Groot deel van die appwinkel se inkomste is van videospeletjies afkomstig en Epic Games het lank probeer om betalings vir sy selfoonspeletjies, soos Fortnite, buite die Google- of Apple-appwinkels te laat plaasvind, aangesien Google tot 30% kommissie neem.

Epic Games het ʼn soortgelyke saak teen Apple verloor, waar ʼn Amerikaanse regter ten gunste van die iPhone-vervaardiger beslis het.

Apple en Google voer gereeld aan dat die kommissies op hul appwinkels bedryfstandaard is, en dat gebruikers betaal vir voordele soos transaksiesekerheid en beskerming teen indringerprogramme.

Google het ook aangevoer dat die ooreenkomste met slimfoonvervaardigers Android-toestelle help om beter teen Apple se iPhone mee te ding.

Maar die verhoor het aan die lig gebring dat Google miljarde dollars aan inkomste deur die appwinkel genereer. Om sy eenstopwinkel vir apps te behou, het Google slimfoonvervaardigers ʼn deel van sy inkomste betaal in ruil daarvoor dat die Google Play Store die eksklusiewe toegangspoort op hul selfone bly.

In die verhoor het Epic Games se prokureurs die strategie as “omkopery” beskryf.

Die argumente deur Epic Games is soortgelyk aan die argumente wat in ʼn ander saak teen Google gemaak is.

In daardie saak beskuldig amptenare van die Amerikaanse departement van justisie die maatskappy daarvan dat hy onwettig optree om te verseker dat sy soekenjin oor die hele wêreld die eerste keuse bly.

Die kern van die saak is dat Apple en ander slimfoonvervaardigers ʼn groot deel van Google se advertensie-inkomste neem deur die ooreenkomste wat met die vervaardigers aangegaan is.

Daar sal eers laat volgende jaar oor dié saak beslis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.