Video: Noodlanding in see skok strandgangers

Skermgreep uit die video

ʼn Tweede Wêreldoorlog-vliegtuig, wat aan die Cocoa Beach-lugskou deelgeneem het, het Saterdag ʼn noodlanding in die see in Florida gedoen.

In ʼn video wat op YouTube gedeel is, kan ons sien hoe die vliegtuig in die vlak water neerdaal en ʼn “sagte” landing maak. Niemand is in die voorval beseer nie.

Die TBM Avenger het sy spoed verminder toe hy die kuslyn genader het en sy enkele skroef tot stilstand kom.

Die vlieënier word geloof vir sy “goeie noodlanding”. “Ek weet nie enigiets van vliegtuie af nie, maar daardie landing was ongelooflik … Dit is uitstekend en veilig uitgevoer! Baie geluk aan daardie vlieënier,” het een persoon in die kommentaar gesê.

Volgens ʼn verklaring deur die organiseerders van die lugskou het die vliegtuig ʼn meganiese fout ondervind terwyl hy aan die oorlogsvliegtuig-parade deelgeneem het, berig Florida Today. “Die vlieënier kon ʼn noodlanding naby aan die kus doen. Reddingspersoneel was dadelik op die toneel en die vlieënier is nie beseer nie,” lui die verklaring.

Die 1945 TBM Avenger, ʼn bomwerper, is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Amerikaanse Vloot gebruik. Die Cocoa Beach-lugskou het op sy webwerf gesê die vliegtuig restourasiewerk ondergaan voor dit aan die lugskou kon deelneem.

Ná dit by die Amerikaanse Vloot uit diens gestel is, is dit tussen 1956 en 1964 in Davis, Kalifornië, as ʼn Amerikaanse bosboudiens-brandweervliegtuig gebruik. Die vliegtuig is oor 18 jaar gerestoureer deur Valiant Air Command en die vliegtuig het vir die eerste keer weer in Januarie 2020 gevlieg.

Die Valiant Air Command het in ʼn Facebook-plasing gesê alhoewel dit goeie nuus is dat die vlieënier nie beseer is nie, is die slegte nuus dat dit waarskynlik weer ʼn paar jaar sal duur om die vliegtuig te herbou.

Die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) ondersoek die voorval.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

netek ·

Gelukkig was die baaiers in die water, en kan niemand die merke agter op die broeke sien nie. hehe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.