Video: Sosiale media gons oor Spice Girls-hereniging

Al vyf Spice Girls het saam Victoria Beckham se 50ste verjaarsdag gevier. (Foto: Instagram/@victoriabeckham)

Die Spice Girls het die naweek vir ʼn goeie dosis nostalgie vir liefhebbers van die negentigs se popmusiek gesorg toe die vyftal Saterdag herenig het by Victoria Beckham, bekend as Posh Spice, se 50ste verjaarsdagpartytjie.

Die partytjie is by die luukse en private ledeklub Oswald’s in Londen, Brittanje, gehou.

Victoria, Geri Halliwell-Horner (Ginger Spice), Emma Bunton (Baby Spice), Melanie Chisholm (Sporty Spice) en Melanie Brown (Scary Spice) het die ikoniese dansroetine van hulle 1997-trefferenkelsnit “Stop” voor opgewonde partytjiegaste uitgevoer.

Victoria se man, die sokkerikoon David Beckham, het die oomblik op video vasgevang en op Instagram gedeel. Die video is reeds meer as 1,5 miljoen keer gekyk.

Ander bekende partytjiegaste, insluitende Eva Longoria van Desperate Housewives-faam en die sanger Marc Anthony, is ook in die agtergrond van die video te sien.

Bekendes soos die akteur Tom Cruise en televisiesjef Gordon Ramsay was ook onder die aand se bekende gaste.

Aanhangers was verheug om al vyf die Spice Girls vir die eerste keer in jare weer saam te sien, met derduisende Instagram-gebruikers wat op die video gereageer het. Sommige het selfs gesmeek dat die groep weer saam op die verhoog verskyn.

“Hoe my dogter oor Taylor Swift voel, is hoe ek oor hierdie meisies voel,” het een persoon gesê.

“David, jy het een taak gehad en jouself goed daarvan gekwyt!” het verteenwoordigers van die stromingsdiens Spotify in die kommentaarafdeling geskryf.

Die Spice Girls tydens die openingseremonie vir die 2012 Olimpiese Spele in Londen. (Foto: Jewel Samad/AFP)

Dié Britse popgroep het in 1996 die wêreld oorrompel met hulle debuutuitreiking, “Wannabe”.

Die Spice Girls is vandag steeds die vrouegroep met die meeste verkope van alle tye en een van die suksesvolste Britse popgroepe sedert The Beatles.

Die negentigsikone het sedert hulle in 1998 paaie geskei het weer twee keer herenig, eers vir ʼn reünietoer in 2007 en later ʼn optrede by die Olimpiese Spele se afsluitingseremonie in Londen in 2012.

ʼn Europese toer het ook in 2019 plaasgevind, maar Victoria was afwesig.

Bykomende bronne: People, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Walter ·

Meer as wat my spysveterinstelsel kan hanteer. Die spul het seker maar weer ‘n geldjie nodig met die ouserdom wat wink. Hoop daar is meer ondersteuners as plooie op hulle gesigte.

Marietjie ·

My 3 dogters was mal oor hulle!! Het selfs ook geneul oor “Spice Girl Tekkies”…moet sê dit was baie mooi…en duur vir die 1990’s…..en vandag? Ek dink nie hulle onthou eers meer almal se name nie hahaha!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.