Vier dood na helikopters bots

(Foto: @bilsthorpeRH/Twitter)

Vier mense is dood en drie kritiek beseer toe twee helikopters aan Australië se Goue Kus gebots het.

Volgens die Queensland-polisie het die voorval naby die gewilde Sea World-park by Main Beach plaasgevind. Voorlopige ondersoek dui daarop dat die helikopters gebots het toe die een opgestyg en die ander een geland het.

Die vlieënier van een van die helikopters kon daarin slaag om die helikopter veilig te land terwyl die ander helikopter ernstig beskadig is toe dit neergestort het. Vier mense is dood in die helikopter wat neergestort het en drie mense het kritieke beserings opgedoen.

Daar was ses insittendes in die helikopter wat veilig geland het. Vyf van die insittendes het ligte beserings opgedoen.

Gary Worrell van die Queensland-polisie het gesê die toneel was moeilik bereikbaar weens die ligging van ʼn sandbank.

“Lede van die publiek en polisie het probeer om mense uit die wrakke te verwyder en het noodhulp begin toepas.”

Australië se vervoerveiligheidsburo het gesê hy het reeds ’n ondersoek na die voorval van stapel gestuur.

Die buro het ’n beroep gedoen op enigiemand wat die helikopters in vlug gesien het of enige beeldmateriaal het, om hulle te kontak.

’n Voorlopige verslag oor die voorval word oor tussen ses tot agt weke verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.