Voorvalle van seerowery op ‘histories’ lae vlak

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Fernando Gutierrez-Juarez/dpa-Zentralbild/dpa Picture-Alliance/AFP)

Voorvalle van seerowery bly steeds op ʼn “histories lae vlak” nadat slegs vyf minder gevalle verlede jaar aangemeld is vergeleke met 2022.

Dit kom ten spyte van die onlangse oplewing van konflik in die Rooisee en die Indiese Oseaan.

Die maritieme inligtingsamewerking en -bewustheid (MICA) sentrum in Frankryk sê in sy jaarlikse hersiening van die stand van sake dat altesaam 295 voorvalle van seerowery verlede jaar aangeteken is. Dié statistieke daal sedert 2008.

Hoewel daar effe meer gevalle in Suid-Oos Asië aangeteken is, was daar minder voorvalle in die omgewing van die Karibiese Eilande, daarom bly die getal voorvalle van seerowery stabiel.

“Wêreldwyd sien ons dat die getal voorvalle stabiel bly,” sê Eric Jaslin, hoof van die MICA-sentrum.

Einde verlede jaar was daar verskeie aanvalle op groot vragskepe deur Houthi-terroriste van Jemen. Die aanvalle was grotendeels om die Bab-el-Mandeb-seestraat waar die Rooisee die Indiese Oseaan ontmoet. Sowat 12% van wêreldhandel beweeg deur dié gebied.

“Daar is groot bekommernisse oor hierdie gedeelte van die see,” sê Jaslin.

“Die bedreiging is groot en gewelddadig aangesien seerowers toegerus is met vuurpyle en hommeltuie wat bomme dra.”

Verlede jaar is altesaam 47 aanvalle in dié gebied aangeteken, waarvan die meeste rondom Bab-el-Mandeb was. Verskeie voorvalle is ook naby die Hormuz-seestraat, aan die mond van die Persiese Golf, en aan die Indiese kus aangemeld.

Die skeepsmagnaat Maersk het reeds al sy skepe opdrag gegee om eerder om Afrika te seil as om die Rooisee en die Suez-kanaal te gebruik. Dit nadat baie van sy vragskepe deur Houthi-terroriste aangeval is.

Maersk het gesê die risiko in die gebied bly hoog, daarom sal sy skepe vir die “voorsienbare toekoms” om die Kaap van Goeie Hoop seil.

Een van die magnaat se skepe is met die aanvang van die nuwe jaar met ʼn vuurpyl getref toe hy deur die Bab-el-Mandeb-seestraat beweeg het. Die vaartuig is toe deur vier skepe aangeval wat deur die Houthi-terroriste bedryf word.

Die Amerikaanse weermag het drie van die skepe gesink, terwyl een op die vlug geslaan het.

Altesame 12 lande, onder leiding van die VSA, het Jemen reeds opdrag gegee om ʼn einde aan “hierdie onwettige aanvalle” te maak en al die skepe en bemanning vry te laat wat onwettig aangehou word.

Die lande het gewaarsku dat daar “gevolge” vir die Houthi-terroriste gaan wees indien hy nie aan die versoek gehoor gee nie.

Minstens 20 000 skepe vaar jaarliks deur die Suez-kanaal. Skepe is intussen aangeraai om hul outomatiese identifiseringstelsel,s wat dit moontlik maak vir ander skepe om hul op te spoor, af te skakel teen die tyd dat hulle Bab-el-Mandeb bereik.

“Dit is nie ʼn waarborg vir oorlewing nie, maar dit maak beslis die vyand se werk moeiliker,” sê Jaslin.

Voorvalle van seerowery is verlede jaar vir die eerste keer sedert 2017 aan die kus van Somalië aangeteken.

“Of hierdie geleentheidsmisdade is of ʼn oplewing van ʼn tendens is te vroeg om te sê.”

In die Golf van Guinee, wat tot onlangs as een van die gevaarlikste gebiede vir seerowery beskou is, is slegs sewe skepe in 2023 beroof, vergeleke met 26 in 2019.

Die getal ontvoerings is egter weer aan die toeneem, met 18 mense wat verlede jaar ontvoer is teenoor die twee mense in 2022. Dit is egter veel minder as die 146 mense wat in 2019 op see ontvoer is.

“Die moontlikheid bestaan altyd dat dit weer ʼn tendens kan raak,” maan Jaslin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.