Vrees oor parasiet wat Australiese byebedryf lamlê

Argieffoto (Foto: PollyDot, Pixabay)

’n Streng biosekerheidsone is in die Australiese staat New South Wales ingestel om die verspreiding van die varroa-myt te beperk en uiteindelik dié parasiet uit te roei.

Die parasiet is verlede week in byekorwe by die hawe in Newcastle ontdek.

The Guardian berig tot 100 korwe is naby die hawe vernietig as deel van veiligheidsmaatreëls.

“Om die verspreiding van hierdie parasiet te keer, sal bewaarders en byeboere tot verdere kennisgewing nie korwe, bye of heuning in die 50 km-biosekerheidsone kan verskuif nie,” sê die Australiese heuningbybedryfsraad.

“Om korwe weg te skuif, sal die kwessie net verder vererger en uitroeipogings futiel maak.”

Daar word gesê dat Australië die enigste groot heuningproduserende land is waar die varroa-myt nie ’n endemiese oorsprong het nie.

Die piepklein rooibruin myte val heuningbye aan en voed dan op hulle. Hulle kan só hele byekolonies uitroei en ook ernstige skade aan die Australiese byebedryf veroorsaak, wat jaarliks $147 miljoen (R2,3 miljard) beloop.

Die myte versprei virusse wat bye se vermoë om te vlieg, kos in te samel en gewasse te bestuif, beïnvloed.

Afgesien van die heuningbedryf is bye noodsaaklik om talle plante te bestuif.

Maroela Media het vroeër berig bye is ʼn onontbeerlike deel van die natuurlike omgewing en bestuif die meeste van die kos wat mense eet.

Dit is in mense se beste belang om die insekte te bewaar, aangesien hulle ’n belangrike rol speel in die instandhouding van ekostelsels en die volhoubaarheid van funksionele voedselnetwerke. Sonder die insekte sal die natuur soos ons dit ken, verlore gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.