Vrou skenk geboorte aan eie kleinkind

Chalise en Kaitlyn met baba Alayna se geboorte (Foto: creatingourfam/Instagram)

ʼn 50-jarige ma in Utah in die VSA het vir haar dogter die geskenk van lewe gegee – twee keer.

Toe Chalise Smith se dogter Kaitlyn Munoz (25) met vrugbaarheidsprobleme begin sukkel het, het die ma van agt besluit om haar dogter se surrogaat te word.

Dokters het Kaitlyn aangeraai om nooit weer geboorte te skenk nie ná sy gediagnoseer is met endometriose en later ook Sjögensindroom gediagnoseer is. Kaitlyn, wat in El Paso, Texas woon, het ʼn seun van haar eie wat in 2019 gebore is. Met twee embrio’s wat oor was van haar vorige IVB-siklus, het sy haar na Chalise gewend.

“My 50ste verjaarsdag was om die draai. Ek sukkel met my regterbeen en met swangerskappe word die heupsenuwee geknyp,” het Chalise aan Fox 13 gesê oor haar aanvanklike kommer om weer swanger te raak. “En om 100% eerlik te wees, was dit uiteindelik een van die maklikste swangerskappe.”

Sy het aan KSL gesê daar was baie wat haar tydens die swangerskap vertel het hoe moeilik dit gaan wees om die baba te oorhandig ná mens haar vir nege maande gedra het, maar dit was nie die geval nie.

Chalise en Kaitlyn (Foto: creatingourfam/Instagram)

“Ek het van die begin af geweet dit is nie my baba nie. Dit was ʼn geskenk vir my dogter wat sy nie self kon doen nie. Ek sal enigiets doen vir my kinders.”

En sy het. Alayna Kait-Chalise Munoz, ʼn babadogtertjie van 3,23 kg, is op 17 Mei by ʼn hospitaal in Utah gebore. Kaitlyn en haar man was teenwoordig met die geboorte.

Kort ná die geboorte het albei vroue hul ervaring op Instagram gedeel.

“Ek het nie woorde nie,” het Kaitlyn by swart-en-wit foto’s geskryf. “My ma is ʼn lewende engel en sy het vir ons nog ʼn seën gebring.”

Smith het op haar beurt gesê sy het nie gedink sy sou ooit só iets beleef of weer ʼn baba op 50 hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nici ·

Eks seker min mense sal met my saamstem maar om jou baarmoeder uit te leen/huur, sperm, eierselle ens., is niks meer as ‘n vorm van prostitusie en ‘human trafficking’ nie. Dit hoort nie in ‘n opgevoede morele samelewing nie. Mense vat wat hul nie toekom nie omdat hul nie bereid is om saam te lewe met die gevolge van die realiteite van hul lewens nie. Ongeag of dit jou skuld is of nie, is dit nodig dat ons morele self-disipline ontwikkel wanneer ons die hou van ons realiteit nie.

KatjieDeKat ·

Nee jy is geregtig op jou opinie, daarmee het ek nie n probleem nie. Hierdie is in elk geval n ander soort geval, dis haar eie ma wat haar gehelp het, so dis n gesinskwessie. Ek sien surrogaat moederskap as n edele gebaar in die algemeen. Ek weet nie of jy n moeder is nie, maar ek is n moeder van 3. So ek het my kinders wat ek wou gehad het. Dus kan ek nie n ander oordeel wat smag na n kindjie van hul eie nie.

Jason ·

Nee jy is heel verkeerd. Ons het die volste reg om ons realiteit te beïnvloed vir die beter. Niemand is verplig om net te aanvaar wat die lewe hulle toedien nie. Dis soos om te se jy mag nie medisyne drink as jy siek word nie. Nee man.

Laksman ·

Hierdie onderwerp laat so baie vrae by my as antwoorde…..ek kan net nie die hele konsep verstaan nie. Die ouma is nou seker in n mate die kind se ma ook………voel dit nou vir haar of sy haar eie kind weggee (al is dit vir haar dogter, maar dit kon tog n vreemdeling ook wees) of sit ek die pot nou heel mis? Ek is seker dit moet nogal n taai een wees……….was daar al “moeders” in die verlede wat geweier het om die kind vir die “eintlike ma” te gee juis vir hierdie rede?

Jason ·

Soos die artikel lees, sy het dit nie moeilik gevind om die kind vir haar dogter te gee nie. N moeder is so baie keer nie die een wat die kind gebaar het nie, maar eerder die een wat die kind soos n moeder grootmaak.

miche ·

Ek dink dis ‘n ongelooflike, onbaatsugtige gebaar van liefde van almal betrokke.
En natuurlik ook die Pappa.
Gee en ontvang. Ontvang en gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.