Vunipola beboet ná opstootjie in Majorka

Die Engelse rugbyspeler Billy Vunipola. (Foto: Sameer Al-Doumy/AFP)

Die Engelse rugbyspeler Billy Vunipola is op pad huis toe nadat hy die naweek in Majorka aangekeer en ná ʼn kort verhoor beboet is vir opstandigheid en verset teen inhegtenisneming.

Die 31-jarige Vunipola het Sondag al in die hof verskyn ná ʼn opstootjie by ʼn kroeg op die eiland se hoofstad, Palma.

ʼn Polisiewoordvoerder het bevestig dat Vunipola ná die voorval aangekeer en reeds weer vrygelaat is nadat die klagte teen hom afgehandel is.

Die Britse klub Saracens het in ʼn verklaring gesê hulle is bewus van ʼn voorval waarby een van hul spelers betrek word en sal die kwessie intern hanteer.

Vunipola het ook ʼn verklaring op X gedeel wat lui dat hy betrokke was by ʼn “misverstand” terwyl hy Sondag ʼn klub in Majorka verlaat het. Die voorval het “handuit geruk”, lui sy verklaring.

Hy het voet by stuk gehou dat daar “geen geweld en geen geveg was nie en dat ek niemand in enige stadium gedreig het – met bottels of stoele of enigiets anders nie”.

Volgens Vunipola is hy aangekla van verset teen die gereg en is hy ná die kort verhoor met €257 (sowat R5 100) beboet.

“Die Spaanse polisie se ondersoek is nou afgehandel en ek vlieg vandag terug na die Verenigde Koninkryk,” lui sy verklaring.

Die Majorka-gesetelde koerant Ultima Hora het berig polisiebeamptes het Vunipola twee keer met ʼn Taser-skoktoestel geskiet en dat agt polisiebeamptes nodig was om hom in bedwang te bring. Die koerant het ook ʼn video gedeel wat wys hoe ʼn geboeide Vunipola saam met ander mans van ʼn polisievoertuig na die hof begelei word.

Vunipola sal Saracens na verwagting aan die einde van dié seisoen groet en hoewel daar bespiegeling is dat hy hom moontlik in Frankryk kan vestig, is dit nog nie bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.