Vuurwerk, oorlog en aardbewings: Wêreld begroet 2024

Meer as ʼn miljoen mense het by die Champs-Elysées in Parys saamgedrom vir ʼn ligvertoning en konsert. (Foto: Bertrand Guay/AFP)

Wêreldwyd het skares bymekaargekom om 2024 te verwelkom, maar terwyl sommige mense in verwondering na vuurwerkvertonings gekyk het, het diegene in Gaza, Israel en Oekraïne skuiling gesoek teen lugaanvalle wat reeds vroeg in die nuwe jaar geloods is.

Dít terwyl duisende Japannese vir hul lewe moes vlug ná ʼn kragtige aardbewing wat boonop tsoenami’s veroorsaak het.

Mense van oor die wêreld hoop waarskynlik om in die nuwe jaar stygende lewenskoste, oorloë en uiterste weerstoestande in 2023 te los; die meeste probleme word egter saamgesleep.

Teen middernag is verskeie vuurpyle van die Gaza-strook na Israel afgevuur waar dit onderskep is.

Israel het ook vuurpyle na Gaza gelanseer, wat volgens die militantegroep Hamas tot 24 sterftes gelei het. Volgens die Verenigde Nasies (VN) het 85% van die inwoners van Gaza reeds gevlug.

Tienduisende mense het Maandag in die Turkse stad Istanbul opgeruk om te betoog teen die omvang van dood en vernietiging wat deur Israel se reaksie op die aanval van 7 Oktober deur Hamas veroorsaak is.

Intussen duur die konflik tussen Oekraïne en Rusland steeds voort.

Oekraïense owerhede het gesê sy weermag het op Oujaarsaand ʼn “rekord”‑getal Russiese hommeltuigaanvalle – altesame 90 – gefnuik ná  ʼn week lange bombardering deur Rusland.

Rusland het intussen meer gereelde hommeltuigaanvalle deur Oekraïne in sy Belgorod-streek naby die lande se gemeenskaplike grens aangemeld.

Pres. Wolodimir Zelenski het in sy Nuwejaarsboodskap aan Oekraïense burgers gesê dat Rusland vanjaar die “toorn” van sy land se magte sal voel.

Sy Russiese eweknie, pres. Wladimir Poetin, het nie na Oekraïne in sy Nuwejaartoespraak verwys nie, maar het op die dag onderneem om aanvalle op militêre teikens in Oekraïne te verskerp.

1 Januarie is in Kiëf in Oekraïne tot ʼn dag van rou vir die dooies verklaar.

Op Nuwejaarsdag het ʼn massiewe aardbewing Japan getref, wat tot verwoestende naskokke en tsoenami’s gelei het. Die dodetal het teen vroeg Dinsdag op 30 gestaan.

Nuwejaar nie oral gelukkig

(Foto: Javier Torres/AFP)

Ure voordat die aardbewing Japan getref het, het miljoene mense in Sydney, Australië, byeengekom om die nuwe jaar te vier.

Meer as ʼn miljoen mense het by die Champs-Elysées in Parys saamgedrom vir ʼn ligvertoning en konsert, terwyl duisende mense later in New York na die reuse- verligte bal in Times Square gekyk het.

Nie alle Nuwejaarsvieringe het egter sonder voorval verloop nie.

In Italië is een persoon dood weens vuurwerk en 274 ander beseer. Dit terwyl die hantering van vuurwerk in Switserland tot die dood van ʼn 46-jarige man en die besering van twee mense gelei het.

Drie jong mans is ook dood toe hulle vuurwerk in Duitsland hanteer het en in die naburige Oostenryk het ʼn brand by ʼn kroeg in Graz die lewe van een persoon geëis en 21 ander beseer.

Oorlogsmoegheid was duidelik onder diegene wat in geweldgeteisterde gebiede lande woon.

In Tel Aviv in Israel het ʼn 24-jarige inwoner gesê hy het verkies om Oujaarsaand te werk, eerder as om die nuwe jaar te vier.

“Die oomblik wat ek begin dans, kom al die hartseer en rou van die jaar terug na my toe,” het hy gesê.

Selfs sommige Russe was nie lus om die nuwe jaar té opgewonde te begroet nie en sê hulle is moeg vir hul land se oorlog met Oekraïne.

“Ek wil graag hê die oorlog moet beëindig word, ʼn nuwe president verkies word en daar ʼn terugkeer na die normale lewe is,” het ʼn 55-jarige vrou van Rusland gesê.

Pous Franciskus het in Italië sy Oujaarsdag spandeer om te bid vir diegene wat in oorloë wêreldwyd vasgevang is.

“Hoeveel lewens is tydens konflikte vanjaar verwoes? Hoeveel sterftes?” het hy gesê.

Stembus toe

Vanjaar word ʼn aantal belangrike verkiesings in Rusland, Brittanje, Indië, Indonesië, Mexiko, Venezuela en Suid-Afrika gehou.

Dit is egter veral die presidentsverkiesing in die VSA wat internasionale gevolge inhou.

Pres. Joe Biden (81) en oudpres. Donald Trump (77) blyk reeds gereed te wees om mekaar weer die stryd aan te sê in die verkiesing.

Biden het die nuwe jaar met optimisme vir die Amerikaanse ekonomie begroet, maar talle kiesers is bekommerd oor die tol wat nog vier jaar in die amp van hom gaan eis.

Daar is eweneens kommer oor Trump se moontlike terugkeer na die Withuis.

Verskeie aanklagte staar Trump in die gesig en vanjaar gaan moontlik bepaal of die miljardêr in die Withuis of die tronk gaan eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.