Dodetal nou op 30 ná aardbewing in Japan

Die aardbewing het Japan op Nuwejaarsdag getref en wydverspreide verwoesting veroorsaak. (Foto: Fred Mery/AFP)

Die dodetal ná ʼn massiewe aardbewing in Japan het Dinsdag op 30 te staan gekom, terwyl nog 14 mense ernstig beseer is.

Die aardbewing van 7,4 het die land op Nuwejaarsdag getref en reeds wydverspreide verwoesting veroorsaak.

Plaaslike owerhede in die kusgebied Ishikawa sê die helfte van die sterftes is in die stad Wajima aangeteken nadat ʼn brand deur verskeie huise versprei het.

Beeldmateriaal van plaaslike nuusagentskappe het die skade wat die brand veroorsaak het, gewys. Dit sluit in ʼn seweverdiepinggebou wat ingestort het.

Die brand en baie van die ander skade in die stad volg op kragtige naskokke wat weer verskeie tsoenami’s met golwe van tot 1,2 m veroorsaak het. Die tsoenami’s het reeds geboue platgetrek en paaie verwoes.

Reddingswerkers spook nou om nog mense onder puin uit te grawe.

“Daar is uitgebreide skade, insluitend talle sterftes, geboue wat ingestort het en ʼn brand wat in Wajima gewoed het,” het die land se eerste minister, Fumio Kishida, gesê.

“Ons is gewikkel in ʼn stryd teen tyd om nog slagoffers van die ramp te soek en te red.”

Hy waarsku dat die aantal sterftes na verwagting oor die volgende paar dae gaan styg en maan dat inwoners bedag moet wees op die naskokke wat kan volg. Verskeie skuddings is vroeg Dinsdag regoor die gebied gevoel, insluitend een wat 5,6 gemeet het.

Byna 33 000 huishoudings sit sonder krag en baie stede het geen lopende water nie. Dit terwyl die temperatuur in die streek oornag vriespunt bereik het.

“Dit is ʼn aaklige manier om die jaar te begin,” het ʼn 73-jarige inwoner aan AFP gesê. Hy en honderde ander mense het Dinsdag tougestaan vir water op die dorp Shika.

Groot skade is in die stad Suzu aan die Ishikawa-kusgebied veroorsaak. (Foto: Jiji Press/AFP)

Geen verdere tsoenami’s

Die reusegolwe wat Maandag die Ishikawa-kusgebied getref het, is waarskynlik nou agter die rug en die regering het alle waarskuwings vir verdere tsoenami’s opgehef.

Beeldmateriaal van die tsoenami’s wys hoe motors, huise en brûe in Ishikawa in die waterstroom beland het, terwyl verskrikte mense in winkels en treinstasies saamgedrom het.

Huise het ingestort en groot krake het in paaie verskyn, terwyl ander deur grondverskuiwings verwoes is.

Minstens 25 huise in die gebied het ingestort, insluitend nog 14 huise waar mense moontlik steeds vasgekeer is.

Altesame 62 000 mense is volgens die brand- en rampbestuursagentskap beveel om hul huise te verlaat en ongeveer ʼn duisend mense woon tydelik op ʼn weermagbasis.

Minoru Kihara, minister van verdediging, het gesê 1 000 weermaglede is gereed om na die streek te gaan, terwyl nog 8 500 op bystand is. Sowat 20 weermagvliegtuie is gestuur om ondersoek na die skade in te stel.

Verskeie groot snelweë is intussen om die episentrum van die aardbewing gesluit en treindienste vanaf Tokio is opgeskort.

Nagenoeg 500 mense was Maandag by Noto se beskadigde lughawe gestrand en sowat 1 000 mense was steeds byna 24 uur nadat treindienste opgeskort is, in sneltreine vasgekeer.

Die dorp Noto het ook groot skade. (Foto: Jiji Press/AFP)

Geen skade by kernkragstasies

Japan ervaar elke jaar honderde aardbewings en die meerderheid veroorsaak geen skade nie.

Japan het in 2011 ʼn massiewe ondersese aardbewing van 9,0 beleef wat ʼn tsoenami veroorsaak het. Ongeveer 18 500 mense is dood of vermis nadat die reusegolf die land getref het.

Dit het ook die Fukushima-kernkragaanleg oorstroom en een van die wêreld se ergste kernrampe veroorsaak.

Japan se kernkragowerheid het Dinsdag gesê daar is geen abnormaliteite aangemeld by die Shika-kernkragsentrale in Ishikawa of by ander aanlegte ná Maandag se aardbewing nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.