Tsoenami’s tref Japan ná massiewe aardbewing

‘n Aardbewing van 7,4 in Japan het ‘n reeks tsunami’s tot gevolg gehad. (Foto: Yusuke Fukuhara)

ʼn Massiewe aardbewing van 7,4 in Japan het reeds verskeie tsoenami’s van tot 1,2 m veroorsaak en nog groter golwe word verwag.

Die aardbewing het Japan Maandag omstreeks 16:10 Japannese tyd in die sentrale gebied van Noto getref. Die nasionale uitsaaier NHK het inwoners kort daarna aangesê om na “hoër grondgebied” te vlug, aangesien tsoenamigolwe binne 300 km van die aardbewing se episentrum moontlik is. Die aardbewing is deur ʼn hele paar kleiner aardbewings van tussen 4,5 en 6,2 kort daarna gevolg.

Volgens AFP het ʼn tsoenami van 1,2 m reeds by die Wajima-stad in Ishikawa aangekom. Nog ʼn  tsoenami van tot vyf meter word in die Noto-gebied verwag, volgens die Japannese meteorologiese agentskap.

Verskeie geboue en ander infrastruktuur is beskadig, maar geen sterftes is tot dusver aangemeld nie. Die Japannese owerhede het intussen bevestig dat geen onreëlmatighede by een van sy kernkragsentrales aangemeld is nie. Groot snelweë rondom die episentrum van die aardbewing is wel gesluit.

Danksy streng bouregulasies is die meeste van die land se geboue bestand teen aardbewings, maar in 2011 het ʼn massiewe aardbewing van 9 onder die see aan die Japannese kus ʼn tsoenami veroorsaak. Dit het 18 500 mense dood of vermis gelaat. Die tsoenami het ook drie reaktors van die Fukushima-kernkragaanleg laat ineenstort, wat Japan se grootste krisis sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak het.

‘n Aardbewing van 7,4 in Japan het ‘n reeks tsunami’s tot gevolg gehad. (Foto: Yusuke Fukuhara)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.