Water op die maan en ‘n groen Groenland …

Groenland

Daar ís water op die maan, en selfs meer as wat eers gemeen is, het planetêre geoloë van die Johns Hopkins Universiteit se laboratorium vir toegepaste fisika in ‘n verslag bevestig.

Volgens die verslag, wat pas in die Nature Geoscience gepubliseer is, kom die water op die oppervlak van die maan voor. Die “magmawater” kan nou deur afstandtegnologie bestudeer word en kom van diep onder die oppervlak van die maan af.

Aanvanklik het wetenskaplikes gemeen klippe op die oppervlak van die maan sou kurkdroog wees, en is tekens van water wat wel gevind is aan kontaminasie deur die Apollosendings toegeskryf. Die nuwe bevindings is gemaak deur data van Nasa se Moon Mineralogy Mapper (M3) te bestudeer.

Vyf jaar gelede het nuwe tegnieke aangedui dat die maan se binneste nie so droog is soos aanvanklik geneem is nie, en terselfdertyd het tuie wat om die maan wentel water op die oppervlak bemerk. Daar is aanvaar dat dit ‘n dun lagie was wat deur die sonwinde veroorsaak is.

Deur waarnemings is vasgestel dat daar in die impakkrater, Bullialdus, heelwat hidroksiel is. Hidroksiel bestaan uit een suurstof, en een waterstofatoom. Gewone water het twee waterstofatome en een suurstofatoom. Hidroksiel is ook reeds in Venus se atmosfeer opgespoor. Die volledige nuusverklaring kan hier gelees word.

Intussen het wetenskaplikes bevind dat groot dele van Groenland teen 2100 moontlik uit bosveld sal bestaan. Sowat driekwart van die eiland is nou nog deur ‘n dik yslaag bedek. Volgens oorlewering het Groenland sy naam gekry toe die Viking–ontdekker, Erik die Rooie, dié yslandskap die naam gegee het om immigrante te lok.

Dit het egter intussen aan die lig gekom dat Groenland destyds, net meer as ‘n duisend jaar gelede, aansienlik warmer was as nou. Daar is onder meer deur argeologiese uitgrawings vasgestel dat die Noormanne onder meer gars verbou het, onder meer om bier mee te brou.

Die Noormanne het juis sowat 500 jaar voor Columbus die Amerikas ontdek het, reeds Noord-Amerika bereik, kolonies daar gestig en dit Vinland (wynland) genoem. Die Vinladse kolonies is egter ontruim, en daarna ook die nedersettings op Groenland toe die klimaat vir selfs die Noormanne te straf geword het.

Die afgelope aantal jare het aardverwarming egter weer ‘n meer leefbare klimaat geskep, en word verskeie gewasse weer verbou. Die aartappeloes groei stelselmatig. Weens die toenemende ekonomiese potensiaal wat die eiland weens die verwarming beleef, het dit ook groter outonomie van Denemarke gekry.

Groenland het net vier soorte inheemse bome, skryf prof. Jens-Christian Svenning van de Deense universiteit van Aarhus, waarvan nog net ‘n paar in die suide van die land voorkom. Maar teen 2100 meen die navorsers, kan die plantegroei “in opmars” gaan om groot dele van die eiland te bedek.

Volgens rekenaarsimulasies sal dit egter sowat 2 000 jaar neem vir die inheemse bome om die dele wat teen 2100 ontdooi sal wees, in te neem. Daar word dus na aanplantings van Noord-Amerikaanse en Europese spesies gekyk, en 44 spesies is as geskik vir vestiging in die ontdooide gebiede geïdentifiseer. Meer besonderhede kan hier gelees word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Ruimte, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Stoere Boer ·

Jy hoor baie die woorde die maan skep (Geen reën) of hy gooi (Moontlikheid vir reën goed). As hy gooi trek die swaartekrag van die aarde die water soos ‘n waterval van die maan af en die wolke is dan soos ‘n sif en siedaar dit reën. As hy skep is dit dan logies die water lê bo-op die maan en kan nie afrol. Leer ek nou daai weteskaplikes iets wat hulle nie geweet het nie en hulle dink hulle is slim.

Seg Net ·

Sit jou slim kind, jy is verseker nie van die maan gepla nie. Die man in die maan,wat van kaas gemaak is, sien neer op die aardbewoners. Ek het jare gelede al my vraatjies op my hand ook na die maan geblaas en nog nooit weer vraatjies gekry nie.
Op ‘n meer ernstiger nood. Die maan het ‘n geweldige invloed op die see. Dan het my oupa ook geglo groente wat ondergrond groei,bolle groente, word geplant met vol maan en donker maan groente soorte wat hulle vrug bo dra. Ook dat diere se bene vol murg is met vol maan en minder murg in het met donker maan.

Daar is baie stories en legendes rondom daardie Hemelliggaam.

Jasper ·

Die Yanks darem. Spook met al daai duur toerusting en dan raai hulle maar nog. Ons het genoeg Omies met mikstokke en drade wat jou sal “waarborg” of daar water is of nie. Ons kry n Guptha om sy reisrelings te tref. Swart bemagtiging behoort n Boorman te sponsor. Ons gewese
Jeugleier kry die kontrak vir die pype lê wat hy dan weer sub-kontrak. So kan almal baat vind met die baie tenders en werkloosheid neem af.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.