Wêreld se grootste vuurpyl binne ure gelanseer

Starship (Foto: Twitter)

Starship, die kragtigste vuurpyl nog ooit gebou om ruimtevaarders na die maan en Mars te stuur, sal hopelik Maandag vir die eerste keer gelanseer word.

Daar sal egter geen ruimtevaarder aan boord wees nie wanneer die reusevuurpyl omstreeks 15:00 SA tyd – en indien alles volgens plan verloop – vanaf SpaceX se platform in die Amerikaanse deelstaat Texas gelanseer word.

Daar is wel ander datums later in die week geskeduleer indien Maandag se lanseringspoging vertraag word; iets wat Elon Musk sê altyd ʼn moontlikheid is.

“Dit is ʼn baie riskante vlug. Dit is die eerste lansering van ʼn baie ingewikkelde, reusagtige vuurpyl,” het Musk, stigter van SpaceX, Sondag op die vooraand van die eerste toetsvlug verduidelik.

“Daar is ʼn miljoen maniere waarop hierdie vuurpyl kan misluk,” het hy gewaarsku. “Ons gaan baie versigtig wees en as daar iets is wat ons bekommer, sal ons dit uitstel.”

Musk het gesê hy wil “verwagtinge laag hou”, want “môre sal waarskynlik as onsuksesvol beskou word” indien sukses bloot daaraan gemeet word dat die vuurpyl in ʼn wentelbaan geplaas word.

Die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa het die Starship-ruimtetuig gekies om ruimtevaarders teen die einde van 2025 na die maan te neem, ʼn sending bekend as Artemis III.

Starship bestaan uit ʼn 50 m hoë ruimtetuig wat ontwerp is om sy bemanning en 100 ton vrag na die maan of na Mars te vervoer. Die ruimtetuig is vas aan ʼn sogenaamde versterker-vuurpyl.

Die ruimtetuig en die versterker-vuurpyl het nog nooit in kombinasie saamgevlieg nie, hoewel daar verskeie suborbitale toetsvlugte van net die ruimtetuig was.

Indien alles volgens plan verloop, sal Starship en die versterker ongeveer drie minute ná die lansering van Starship van mekaar skei voor die versterker in die Golf van Mexiko sal neerstort.

Starship, wat ses enjins van sy eie het, sal dan voortgaan tot op ʼn hoogte van byna 240 km en ʼn amperse sirkel van die aarde voltooi voor dit ongeveer 90 minute ná lansering in die Stille Oseaan sal neerstort.

“Indien ons ver genoeg van die lanseerplatform af kom voordat iets skeefloop, sal ek dit waarskynlik as ʼn sukses beskou. Dit moet net nie die lanseerplatform opblaas nie,” het Musk Sondag gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.