Wêreldatletiek verskerp dalk reëls oor transgender-atlete

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Pexels/Pixabay)

Wêreldatletiek gaan Donderdag waarskynlik die reëls oor die deelname van transgender vroue in vroulike kompetisies verskerp ná ʼn vergadering wat na verwagting ook die verbod op Rusland, weens die gebruik van verbode middels, sal ophef.

Baan-en-veld, ʼn Olimpiese sport, het ʼn ander rigting ingeslaan as dié van swemowerhede wat transgender atlete effektief verbied het om hoegenaamd deel te neem aan vroulike kompetisies.

Wêreldatletiek sê sy “voorkeur-opsie” is om die reëls strenger te maak wat betref diegene wat in aanmerking kom vir deelname, maar dat testosteroonvlakke die deurslaggewende faktor sal wees.

Die organisasie het voorgestel dat die regulasies, wat betref transgender atlete en diegene wat as DSD (“verskille in seksuele ontwikkeling”) klassifiseer, gewysig word.

Die mees hoëprofiel DSD-atleet is Suid-Afrika se Olimpiese 800 m-kampioen Caster Semenya.

Onder die aanbevelings van Wêreldatletiek sal transgender en DSD-atlete die hoeveelheid bloedtestosteroon moet verminder van die huidige maksimum van vyf nanomol per liter tot minder as 2,5, en die bloedtestosteroon moet vir twee jaar, en nie net een jaar soos die huidige regulasies nie, op dié vlak bly.

Die aanbevelings word nou by ʼn vergadering van die Raad van Wêreldatletiek oorweeg wat Dinsdag in Monaco begin het.

Russiese atlete

Nog ʼn groot voorstel hou met Russiese atlete verband. Dit kom te midde van ʼn tyd waar internasionale sportorganisasies dié land se deelname aan die 2024 Olimpiese Spele in Parys heroorweeg.

Rusland se atletiekfederasie is in 2015 verbied ná ʼn verdoemende verslag onthul het dat daar ʼn kultuur onder die atlete is om verbode middels te verbruik. Die land kom nie in aanmerking daarvoor om wêreldatletiekbyeenkomste aan te bied of spanne te stuur om aan internasionale kampioenskappe deel te neem nie.

Die atletiek-supermag sal aan ʼn rits streng voorwaardes moet voldoen voor atlete weer toegelaat word, insluitend ʼn kultuur van zero-toleransie.

Slegs ʼn handjievol Russiese atlete het aan baan-en-veld deelgeneem by die Olimpiese Spele in Tokio, wat van 2020 na 2021 uitgestel is weens die Covid-19-pandemie. Hulle het onder ʼn neutrale vlag deelgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.