‘WGO se hantering van Covid-19 ʼn ramp’ – paneel

(Argieffoto: Unsplash)

Die internasionale paneel wat die paraatheid vir en reaksie op pandemies ondersoek, het Woensdag die uitbreek en verspreiding van Covid-19 as “ʼn ramp op elke vlak” beskryf.

In ʼn verslag dui dié paneel aan dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) nie omsigtig en vinnig genoeg opgetree het om die verspreiding van die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak te verhoed nie. Volgens die paneel was lande se gesondheidstelsels ook nie gereed om dié globale krisis te hanteer nie.

Luidens die verslag het die Covid-19-uitbreking in Wuhan, China, waarskynlik reeds op 22 Januarie 2020 aan die kriteria van die WGO se hoogste noodgevalvlak voldoen. Die WGO het egter eers agt dae later (30 Januarie) ’n openbare gesondheidskrisis van internasionale belang verklaar.

“Die wêreld se reaksie op die virus was effens traag, huiwerig en ontkennend,” lui die verslag. “Die gevolg was dat die uitbreking in ’n epidemie en toe ’n pandemie ontaard het.”

Volgens die verslag het die meeste lande daadwerklik eers begin optree toe Covid-19 uiteindelik op 11 Maart tot ʼn amptelike pandemie verklaar is.

Luidens die verslag het lande gereageer met strategieë van aggressiewe inperking en onderdrukking. Party lande het glad nie ’n waarneembare strategie gehad om die virus te beveg nie en in ander lande het die leierskap misluk en sodoende die publiek se vertroue in plaaslike gesondheidstelsels geskend.

“Swak strategiese keuses is gemaak wat die pandemie in ’n katastrofiese humanitêre krisis omskep het.”

Die paneel het in die verslag ʼn aanbeveling gemaak om die produksievermoë van entstowwe onmiddellik in lande met laer en middelinkomste te bevorder om sodoende ʼn einde aan die pandemie te bring. Hy stel ook voor dat lande met hoë inkomste teen 1 September die 92 armste lande van minstens een miljard dosisse entstof moet voorsien.

In die verslag stel die paneel ook voor dat meer fondse vir navorsing beskikbaar gestel word om toekomstige pandemies te verhoed. Volgens die paneel moet die WGO ook meer beheer hê oor hoe sy geld bestee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Die WGO is net nog ‘n nuttelose wanfunksionele geldmaak foefie vir “fat cat” base.

Johann ·

Ja wel dis dieselfde organisasie wat SA loof vir die fantastiese manier wat die regering die pandemie hanteer…

KB ·

Het IEMAND uiteindelik wakker geword?

Daar word al maande lank gesê die WGO is ‘n skaakbord vol pionne…Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, is die hoof-pion.

Johan ·

“Swak strategiese keuses is gemaak wat die pandemie in ‘n humanitêre krises omskep het”..regulasies en inperkings wat oneffektief is maar katastrofese ekonomiese gevolge het…Die bende ( Maskermal en Frans) op die forum verstaan dit dalk nie maar wat lees ons mis?

Dirk Mostert ·

Die enigste ramp is die verklaring van ‘n pandemie. Die WGO word deur China en die Gates-Stigting gefinansier. Bill Gates is prominent in farmaseutiese maatskappye wat groot winste maak uit die pandemie-industrie, terwyl die wereld-ekonomie geknou word en menseregte vertrap word.

annie ·

Die ‘paneel’ was ok maar effe traag met sy reaksie op die WGO se trae reaksie en die farma wat entstowwe ontwikkel effe traag met massaproduksie en lande traag met inperkings, die verkryging van entstof en inenting. In vorige eeue is families saam in hul huise verseèl met wagte buite, en basta. Lyke is in diep slote gestort, soos ons beroemde Mozart. Uitbrake word met reg, soos in die Bybel, as pes beskryf. Dit kom altyd weer in ‘n nuwe gewaad en wen elke keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.