Wysheid van die grysheid (of tyd om af te tree)?

Boris Johnson, Joe Biden, Olaf Scholz, Emmanuel Macron en Mario Draghi (Foto: Ludovic MARIN /POOL/AFP)

Joe Biden, die VSA se 80-jarige president wat vroeër aangekondig het dat hy weer tot Amerikaanse president verkies wil word, is onder ʼn handvol wêreldleiers wat hul onderskeie lande op ʼn meer senior ouderdom stuur.

Is dit dalk tyd om die leisels oor te gee?

Die wêreld se oudste verkose leier is Kameroen se Paul Biya. Biya is die afgelope vier dekades lank die president en in die ouderdom van 90 jaar regeer hy steeds met ʼn ystervuis. Die VSA se Ronald Reagan was nog in die Withuis en die Sowjetunie sou eers ʼn dekade later ineenstort toe Biya in 1982 al beheer van die land in Wes-Afrika geneem het.

Biya is die bynaam van “die Sfinks” gegee vir sy ondeurgrondelike aard.

Hy het in Oktober verlede jaar ʼn sewende agtereenvolgende termyn verseker – maar te midde van verskeie bewerings van verkiesingsbedrog.

Nog Afrika-leiers tel onder die wêreld se oudstes. Die president van die Ivoorkus, Alassane Ouattara, is 81 jaar oud en sy eweknie van Namibië, Hage Geingob, óók.

Ouattara is sedert 2011 in beheer van die land nadat hy sy aartsvyand, Laurent Gbagbo, ontsetel het. Gbagbo het die nederlaag nie goedsmoeds aanvaar nie en dit het tot maande lange geweld gelei.

Namibië se Geingob word bestempel as ʼn politieke veteraan en hy regeer die land al byna ʼn dekade lank. Hy het in 2019 ʼn tweede vyfjaartermyn by die stembus verseker danksy die steun van sy Swapo-party. Swapo het ʼn deurslaggewende rol gespeel in Namibië se onafhanklikheidswording van Suid-Afrika.

Zimbabwe se Emmerson Mnangagwa is 80 jaar oud. Genoem “Die Krokodil” weens sy geweteloosheid, regeer hy die land sedert 2017 nadat hy sy voormalige mentor, Robert Mugabe, omvergewerp het.

(Suid-Afrika se eie Cyril Ramaphosa het verlede jaar 70 jaar oud geword, maar word glad nie as een van die wêreld se oudste leiers beskou nie.)

Die oudste wêreldleiers is in die volgende lande.

Nóg presidente oud, maar nie koud

Mahmoud Abbas, wat sedert 2005 die hoof van die Palestynse Owerheid is ná vyf dekades in Yasser Arafat se skaduwee, is in die ouderdom van 88 een van die wêreld se oudste verkose leiers.

Abbas is ʼn onvermoeide voorstander van ʼn onderhandelde tweestaat-oplossing vir die konflik tussen Israel en Palestina en geniet sterk steun van die internasionale gemeenskap.

Onlangse meningspeilings wys egter dat die meeste Palestyne wil hê hy moet opsy staan en plek maak vir ʼn nuwe leier.

Drie Europese presidente is ook van die oudstes ter wêreld, maar hulle het hoofsaaklik net seremoniële magte.

Die Ierse politikus en digter Michael Higgins (82) dien sedert 2011 as president van Ierland.

Hy is veral gewild onder burgers vir sy alledaagse benadering tot die lewe (hy staan ​​sommer self in die tou om geld by die kitsbank te trek) en sy toewyding aan die kunste. Hy is in 2018 gemaklik herkies.

Italië se (effens jonger) pres. Sergio Mattarella (81) was ʼn verenigende figuur deur vyf verskillende regerings sowel as die Covid-19-pandemie.

Die voormalige regter van die konstitusionele hof wou net een keer president wees, maar het uiteindelik ingestem om in 2022 vir ʼn tweede termyn aan te bly nadat die parlement, wat die staatshoof verkies, nie eenstemmigheid oor sy opvolger kon bereik nie.

Malta se 81-jarige George Vella is ʼn voormalige minister van buitelandse sake, ʼn dokter en teenaborsie-kampvegter. Hy het in 2019 president geword met die belofte om te veg vir “respek vir die lewe van elke individu – van die begin tot die einde daarvan”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Biden se ouderdom is die minste van sy probleme.
Sommige mense is op 80 nog helder van verstand en flink.
Biden is heel duidelik nié, al probeer hy en sy ondersteunerspan so voorgee.
Biden is net nóg ‘n bejaarde, beïnvloedbare, bevlekte beroepspolitikus by die dosyne ander in Washington.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.