Zimbabwe op National Geographic se ‘moet-sien’-lysie

Victoria-waterval in Zimbabwe (Foto: leonbasson/Pixabay)

National Geographic Traveller, een van die wêreld se vooraanstaande reistydskrifte, het Zimbabwe op ʼn lys van 19 ‘moet-sien’-bestemmings in die wêreld in 2019 geplaas. Zimbabwe is in die negende plek, die hoogste plek op die ranglys van enige Afrika-land.

Lonely Planet, nog ʼn vername reisorganisasie, het Zimbabwe in die derde plek geplaas van plekke wat die wêreld volgende jaar moet sien.

Setouchi in Japan is bo-aan National Geographic Traveller se ranglys met KwaZulu-Natal in Suid-Afrika in die 13de plek. Volgens die tydskrif is KwaZulu-Natal op dié lys omdat British Airways onlangs direkte vlugte beskikbaar gestel het tussen Heathrow en Durban en twee nuwe gastehuise in die Hluhluwe-Imfolozi Park oopgemaak het. Die belangrikste bestemmings is die strande en “magiese ontmoetings met olifante en renosters wat gered is”, tesame met bootvaarte by St Lucia.

Zimbabwe beleef tans erge probleme met tekorte aan brandstof en stygende pryse. National Geographic Traveller het geskryf: “Waarom nou? Met Mugabe weg, lyk dit of Zimbabwe se nuwe president Emmerson Mnangagwa gretig is om in toerisme te belê. En alhoewel daar ekonomiese en politieke onstuimigheid is, word die veiligheid van toeriste nie bevraagteken nie.”

Belangrikste toeristebestemmings: Victoria-waterval en die omliggende gebied, die Zambesi- nasionale park, Hwange- nasionale park, Mana- nasionale park en Gonarezhou- nasionale park.

Zimbabwe het minstens vyf Wêrelderfenisgebiede. Die Victoria Falls-lughawe is ook uitgebrei en inkomste uit dié toerisme sal na verwagting vanjaar meer as $1 miljard beloop met ʼn rekord van 2,7 miljoen toeriste.

Die volledige lys:
1 Setouchi, Japan
2 Antarktika
3 Pittsburgh, Pennsilvanië in die VSA
4 Korsika
5 Kambodja
6 San Miguel de Allende, Meksiko
7 West Yorkshire, Engeland
8 Hongkong, China
9 Zimbabwe
10 Guyana
11 Oslo, Noorweë
12 Eritrea
13 KwaZulu-Natal, Suid-Afrika
14 Bhutan
15 Dundee, Skotland
16 Uganda
17 Matera, Italië
18 Indonesië
19 Sibiu, Roemenië

Klik hier om te sien waarom elke streek gekies is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Onnie ·

Hulle word seker ‘n klomp geld deur die minister van toerisme betaal om Zimbabwe (wat nie eers kos het nie) op dai lysie te sit. The proof is in the pudding – helfte van Zim bly al hier by ons…?

Alida ·

Stem saam. Hulle bedoel seker Zim WAS no een nou is daar nie eers mieliemeel nie en SA is moord en roof paradys. Hulle belieg die toeriste.

Paul ·

En waar is die Krugerwildtuin? Soos met die gradering van ons ekonomie, gaan dit daar net agteruit. Hotelle en wat nog is besig om oorweeg te word, konferensie geriewe is al die norm, in Shingwedzi bied hulle al barokmusiek aan. Kistkosrestaurante, wegneenetes wat by piekniekplekke soos Afsaal en Tshokwane oorgeneem het.

Hello Stad het die wagwoord geraak. Ek lees elders in Europa het globaliseering nou teespoed gekry.

Jare gelede, dis nou in die goeie ou dae het hulle in die aande in Skukuza ‘n boma gehad waar hulle ‘n groot vuur gemaak het en waar mense saamgekom het om hul vleise te braai, pap is in swart potte gemaak. Die mense is vooraf uitgenooi deur tromme wat geslaan is om Afrika in die natuur te kom ervaar. Dan was daar ook ‘n program aangebied in die regte tradisie van die bos.

En vandag ………. ???

Gys ·

Ek was onlangs by die Victoria watervalle, na ons besoek aan die Caprivi. Ons het sommer in die munisipale kampterrein gekamp. Alles omtrent die besoek was fantasties. Ek sal beslis weer soontoe gaan. Die beste was egter die feit dat daar geen swartgallige Suid-Afrikaners was nie. Hulle het gelukkig almal by hul huise op die internet sit en kla.

Anoniem ·

Ons was ook einde Julie vanjaar daar en het dieselfde beleef. Ons het vanaf Kasane met ‘n toerbussie gery en die enigste negatiewe was die 2 1/2 uur se gewag by die grenspos. Andersins, fantasties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.