Daniel Naudé oor sy ‘Pigeon Project’: ‘Dit is die kuns ágter dit’

“Study for portrait 1. Homing Pigeon, 2016”. (Verskaf deur Daniel Naude.)

ʼn Projek waarmee hy in 2016 begin het, geniet uiteindelik welverdiende aandag op Suid-Afrikaanse bodem én oorsee.

Daniel Naudé, die internasionaal erkende fotograaf, kry dit reg om deur fotografie die kompleksiteit tussen dit wat werklik is en dit wat mensgemaak is in ʼn gebalanseerde landskap te vertoon. Met verwysing na die Japannese kontemporêre fotograaf, Hiroshi Sugimoto, gebruik Naudé selfgeskepte dioramas as agtergrond vir sy voorwerp.

Dié keer ʼn duif.

Naudé het weer met Maroela Media gesels, dié keer virtueel en oor sy jongste reeks, Pigeon Project.

Soortgelyk aan sy vorige werke gebruik Naudé sy besonderse styl en uitleg as vertrekpunt om aan ʼn enkele dier gestalte te gee.

“Voëls is iets misterieus,” vertel Naudé.

“Toe ek jonk was, het ek wippe gebou en duiwe gevang. Dan kyk ek hoeveel ek kan vang. Duiwe is een van die oudste makgemaakte wesens. Dit is ʼn voëlsoort waaroor niemand besorg is nie. Soos die Afrikanus Honde [in sy boek, Animal Farm] wat mos nie ʼn aangeprese dier is nie, dit is maar my werkrigting.”

Tog neem Naudé waar hoe die duif oor die eeue gebruik word as boodskapper, as draer om diamante te smokkel én dié voëlsoort se vermoë om altyd terug te keer na sy huis.

Dit is ook nie enige duif wat die geleentheid kry om voor Naudé se lens te pronk nie. Dis ʼn noukeurige soekproses. En dit is juis hierdie soekproses wat verseker dat net die regte duif vir Naudé se selfgeskepte dioramas gekies word. Soveel so dat hy verskeie kommentare ontvang waarin mense meen die diere in sy portrette lyk opgestop.

“Deur my loopbaan het ek portrette geneem van diere waar hulle tot sekere mate opgestop of die produk van taksidermie lyk. Die gesigte is stil, die monde is toe. Die diere lyk tot groot mate soos ʼn standbeeld,” vertel Naudé.

Soos al sy vorige werke is die diere wel lewend, so ook in die geval met die duif.

Hoe kry hy dan die duif dat hy só stil sit? Naudé antwoord:

“Dit is ʼn dag lange taak om alles te laat werk. Dit is die kuns daaragter.”

Die presiesheid waarmee hy te werk gaan is opmerklik in al sy werk. In sy jongste reeks gaan Naudé weer tot die uiterste om sy eindproduk te lewer.

“Jy skep ʼn moment. Daai goed is gekies om daar te wees. Dis baie belangrik,” verduidelik Naudé.

Selfportret in 2012 tydens ‘Animal Farm’. Foto: Verskaf deur Daniel Naudé

Hy verduidelik hoe hy meer as drie riviere besoek het om die regte sand vir die stel te kry. Verder is die sprinkane, wat sigbaar is in Study for portrait 1. Homing Pigeon, afkomstig van Prieska. Dié insekte is daar gevang waar hy per sprinkaan moes betaal. Hy vertel hoe hulle ook die sprinkane gereeld moes voer, “want hulle verloor hul kleur as hulle doodgaan”.

Die kristalle wat in die reeks gebruik word, het Naudé self in die noorde van Suid-Afrika gaan opgrawe.

Naudé meen: “Dit is waar ek dink dat ek handearbeid in fotografie ingebring het. Dit is wat waarde heg aan die projek, glo ek. Dit is nie net ʼn foto nie, dis ʼn projek.”

Anders as sy vorige werke waar hy diere in hulle natuurlike omgewing gaan afneem het, bestaan Pigeon Project uit dioramas wat Naudé self ontwerp en gebou het en waarin hy dan die lewende duif plaas.

“Dis ʼn fantasie, ek sê altyd dis ʼn plastic fantasy. Fotografie ís hierdie misterieuse ding – jy kan nooit sê wat presies dit is nie. Jy skep hierdie wêreld daarvoor.”

Oor die meer beheerde omgewing waarbinne sy Pigeon Project-reeks geskep is, meen Naudé dit het sy voordele, maar kan ook “gevaarlik” wees.

“Dit is anders as werk in die veld, want jy het deels beheer, jy kan kies hoe jou landskap moet lyk.

“Dit is baie stil. Dit is eintlik ʼn gevaar, jy moet ʼn streep trek om te sê jy is nou klaar, die stel is gereed, kom ons kry die duif in en neem dit af en gaan aan. Dit is baie meer intensief in die veld, want dis net in daai paar sekondes wat jy dit moet regkry.

“Ek hou daarvan om die verskillende emosies in die werke in te bring,” vertel Naudé.

“Study for portrait 2. Chinese Owl Pigeon, 2016”. (Verskaf deur Daniel Naudé.)

ʼn Gevoel van oorvloed en oorbodigheid kan waargeneem word in Study for portrait 1. In kontras is ʼn meer gelykmatige en stiller stemming in Study for portrait 2. merkbaar. ʼn Stiller omgewing neem egter nie die kompleksiteit van die portret weg nie.

Naudé verduidelik sekere van die dieper betekenisse in Study for portrait 2.

  • Illusie van wind en beweging. Die duif is geteel om te lyk of die vere teen sy bors deurmekaar gewaai is. Sand “waai” oor die groen kristalle deur ʼn haardroër te gebruik terwyl nog ʼn assistent sand oor die geel klip in die agtergrond gooi.
  • Die stukkies groen kristalle bo-op die middelste wit kristal pas by die duif se groen skakering op sy nek. As jy daarna kyk, is dit lyne wat mekaar ontmoet en jou oog verbind daai kleure.
  • Die geel kristal regs agter in die hoek praat met die geel kristal links agter in die hoek.
  • Met verwysing na die fotograaf, Keegan Shaw, se werk is daar regs voor ʼn stuk kristal op die voorgrond wat half weggesny is. Die kyker kry die geleentheid om nou self dit wat buite die raam is te bou en te visualiseer.

“Alles is daar geplaas met ʼn rede omdat ʼn mens die tyd het. Al daai klein goedjies dra by, dit lei jou oog in. Dit is vir my die kern.”

Weens die wêreldwye Covid-19-pandemie is al Naudé se uitstallings aangeskuif en moes galerye ook aanpas by die omstandighede. Die Photographers Gallery in Londen hou in Julie ʼn virtuele uitstalling, waar onder meer Naudé se Pigeon Project ook te siene sal wees.

Intussen is die reeks reeds by die Everard Read Gallery in Kaapstad bekendgestel, maar “ek kry nie my afdrukke van Duitsland af hier met Covid [-19] nie. Dit lê by doeane”, verduidelik Naudé.

Sy uitstalling oor ʼn reeks insekte wat in uiters hoë definisie geneem is, sou in Oktober die lig gesien het, maar is tot volgende jaar Februarie uitgestel.

Intussen spreek die waarde van sy werk vanself en het hy al reeds drie afdrukke van sy jongste reeks verkoop. Hy skryf dit toe aan die storie agter die portrette.

Soos dr. Ernst van der Wal, senior lektor in Visuele Kunste aan die Universiteit van Stellenbosch, tereg skryf:

“… sy foto’s dien as refleksie van ons eie verlangende visie op die nauurlike wêreld – een waarin ons steeds droom van vrye toegang tot die ‘werklike’ en ‘ongeskonde’.”

* Indien jy met Naudé kontak wil maak oor een van sy uitstallings kan jy ʼn e-pos na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.