Etiket as jy tydens Covid-19 ʼn restaurant besoek

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash/Alex Holyoake)

Oral stroom mense weer na hul gunsteling-restaurante, want maande lank moes hulle aand na aand self kos maak.

Daar is mos min dinge so lekker as om jou gunsteling-gereg by ʼn gesellige restaurant te geniet. Restaurante kry ook deesdae meer aftrek aangesien mense toegelaat word om daar weer vriende en familie te ontmoet, terwyl ʼn kuier by die huis nog verbied word.

Hoewel ons opgewonde is dat restaurante weer kon oopmaak en geregte kan bedien, moet dit nie ʼn rede wees om jou en ander se gesondheid in gevaar te stel nie.

Rioma Caminelli, direkteur van First Loyalty Plus, sê die heropening van restaurante is ʼn teken dat dinge stadig maar seker weer na normaal terugkeer. Maar sy waarsku dat jou ervaring in ʼn restaurant steeds ver van normaal sal wees.

“Die reëls het verander en dit kan lastig wees om die onbekende in te vaar wanneer jy ʼn maaltyd by ʼn restaurant gaan eet,” sê sy.

Dit is algemene kennis dat ʼn mens ʼn masker moet dra wanneer jy by die restaurant se deur opdaag, ʼn register invul en minstens 1,5 m van mekaar af moet wegbly, maar Caminelli bied nog ʼn paar etiketreëls vir wanneer jy tydens isolasie ʼn restaurant wil besoek:

  1. Jou masker

Jy hoef nie te probeer om jou vurk onder jou masker in te druk wanneer jy ʼn restaurant besoek nie. Jy word toegelaat om die masker af te haal wanneer jy eet of drink.

Die reëls oor wat om met jou masker te doen as jy nié eet nie, is egter nog onduidelik. Hoewel sekere restaurante strenger is as ander, is die algemene etiket om jou masker aan te hou ten alle tye, behalwe as jy iets wil eet of drink.

  1. Wees kalm

Ons is opgewonde om vriende en familie vir die eerste keer in drie maande te sien, maar dit is belangrik om kalm te bly tydens die eerste herontmoeting.

Eerder as om na mekaar te loop en te omhels of te soengroet, bly liefs by jou tafel met jou masker aan en gee eerder die president se betroubare elmboog-groet.

  1. Klein groepies

Wees versigtig om tafels te bespreek vir groot groepe mense. Julle sal heel moontlik steeds elkeen 1,5 m uit mekaar moet sit, wat veroorsaak dat jy in elk geval nie met baie mense kan gesels nie.

Hou eerder restaurantkuiers klein en intiem – dit voorkom nie net dat julle op mekaar moet skree nie, maar dit voorkom ook die verspreiding van die virus na klomp mense.

  1. Wees vriendelik

Dit is belangrik om te verstaan dat die restaurant se personeel onder baie ongewone omstandighede werk en hulle kom ook waarskynlik met veel minder personeel as gewoonlik klaar.

Wees maar geduldig met die personeel as die kos dalk langer neem as gewoonlik en moenie skelmpies vra vir ʼn glas wyn saam met jou kos nie.

  1. Wees vrygewig

Die meeste van die kelners kon die afgelope drie maande glad nie werk nie en is heel moontlik op die oomblik gespanne oor hul finansies. Probeer om sover jy kan ʼn fooitjie te laat, en wees vrygewig as jy dit kan bekostig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rentia ·

Twak… Is daar enige restaurant wat 1.5 meter uit mekaar uit stoele pak? Meeste tafels is deesdae skaars 1m lank! Mugg&Bean sit skouer teen skouer. Ek het persoonlik al hoeveel kere gesien hoe sit mense in Wimpy / Mugg&Bean ingeryg soos die verlede. Dalk begin mense moeg raak om vir die gek gehou te word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.