Koepee met vier deure

Al drie modelle lyk amper identies indien daar nie ʼn magdom items van die M-katalogus gekies word nie. (Foto: Verskaf)

Volgens die woordeboek is ʼn koepee ʼn motor met ʼn vaste dak, twee deure en ʼn skuins agterkant. Die verduideliking is nie onduidelik nie.

Audi, BMW en Mercedes-Benz is egter almal “skuldig” aan ʼn koepee met vier deure. Audi noem syne ʼn sportback, BMW roep hom ʼn Gran Coupé en Mercedes noem sy weergawe net ʼn Coupé.

Ai. Die malligheid stop nie daar nie.

Jare terug het ʼn mens ʼn BMW 3-reeks gekry in drie bakstyle: sedan, koepee en afslaandak. Toe maak hulle ʼn 4-reeks: ʼn 3-reeks met twee deure. Daarna vervaardig hulle ʼn 4-reeks Gran Coupé – dis nou ʼn 4 met vier deure. Maar wat is ʼn 3 dan?

Nietemin.

Ons het onlangs die bekendstelling van BMW se opgeknapte 4-reeks Gran Coupé bygewoon. Daar was drie modelle beskikbaar by die bekendstelling: 420i, 420d en M440i xDrive.

Al drie modelle lyk amper identies indien daar nie ʼn magdom items van die M-katalogus gekies word nie. Die ontwerp is voorwaar mooi en al was ek nie nog altyd ʼn liefhebber van dié bakstyl nie, is dié Gran Coupé bitter mooi.

Die binneruim van die Gran Coupé is pure BMW. (Foto: Verskaf)

Die binneruim van die Gran Coupé is pure BMW. Die materiale is pragtig en daar kan beslis geen fout gevind word met die bougehalte nie. Die tegnologieë werk slim en is ergonomies uitgelê. As ek fout móét vind, is dit met die uitleg van die digitale instrumente. Ek sou dit graag wou verander om meer soos gewone meters te lyk.

Die 20i‑enjin bied 135 kW en 300 Nm. Die 2.0‑petrolenjin kan 100 km/h haal in 7.9 sekondes en 235 km/h haal, voluit.

Dit is op die pad waar ‘n mens al die BMW se foute met die hele vierdeurkoepee-storie vergewe. (Foto: Verskaf)

Die meer gewilde 2.0‑dieselenjin bied 140 kW en 400 Nm. Hy kan 100 km/h haal in ʼn ratser 7.5 sekondes en snol 233 km/h voluit.

Dit bring ons by die baas van die reeks. Die M440i xDrive.

Die ritgehalte van die BMW is tans ongeëwenaard. (Foto: Verskaf)

Die voertuig bied 285 kW en 500 Nm. Van nul tot 100 km/h neem ʼn blitsige 4.7 sekondes en is elektronies beperk tot 250 km/h.

Die 2.0‑petrol gebruik 6,5 l/100 km, die diesel slegs 4,9 l/100 km en die reeksleidende M440i ʼn swaarder 8,2 l/100km.

Dit is op die pad waar ek BMW al sy foute vergewe met die hele vierdeurkoepee-storie. Die 4-reeks Gran Coupé sweef fantasties oor die pad. Die ritgehalte is verstommend goed vir ʼn  moderne Duitse voertuig.

Dan kom mens by ʼn bergpas en die 4-reeks maak sy tekkies vas en vlieg teen die pas af soos ʼn sierskaatser met vlymskerp lemme.

As ‘n mens fout móét vind, is dit dalk met die uitleg van die digitale instrumente. (Foto: Verskaf)

Dit is baie maklik om die 4-reeks Gran Coupé op te som. Die nuwe deurhandvatsels is werklik mooi. Die ritgehalte is tans ongeëwenaard en al drie enjins bied iets spesifieks vir kopers, ongeag hul smaak en begroting – luuksheid óf spoed. Ek sou waarskynlik ʼn 330d koop vir dieselfde soort geld, net vir die sessilinder-turbodiesel.

Ek wou nou sê, vir die 3-reeks se gewone sierrooster ook, maar ek moet my woorde terugtrek. Die 4-reeks is pragtig, lelike haasbek en al.

Die reeks lyk só:

BMW 420i Gran Coupé M Sport135 kW/300 Nm6,5 l/100 kmR930 000
BMW 420d Gran Coupé M Sport140 kW/400 Nm4,9 l/100 kmR980 000
BMW M440i xDrive Gran Coupé285 kW/500 Nm8,2 l/100 kmR1 300 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Die materiale is pragtig en daar kan beslis geen fout gevind word met die bougehalte nie. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.