Gesogte Radiotoekennings aanlyn uitgedeel

Die wenners van die tiende jaarlikse Radiotoekennings is Vrydag aanlyn aangekondig deur die komediant Loyiso Madinga.

Die toekennings dien as platform om Suid-Afrikaanse radiostasies te vier en vereer. Die gesogte Stasie van die jaar-toekennings het onderskeidelik aan Kaya 95.9 FM (kommersieel), Hot 91.9 FM (gemeenskap), Radio 2000 (openbare uitsaaier) en Tuks 107.2 FM (kampus) gegaan.

Die wenners word bepaal deur die aantal keer dat ʼn stasie as finalis onder die verskeie kategorieë verskyn het. Elkeen van die finaliste het ook ʼn motivering ingedien wat handel oor die stasie se innovering, groei van luistergetalle, gemeenskapsuitreiking en algemene prestasies. Dié motiverings is deur ʼn raadgewerspaneel van die Radiotoekennings beoordeel.

“Baie geluk aan al die finaliste, veral die wenners, wat dinamiese en aangrypende radio vervaardig vir Suid-Afrikaanse luistergehore,” het Taryn Westoby, hoof van arenageleenthede wat die Radiotoekennings bestuur, gesê.

“Dit is ʼn uitdagende seisoen in die lig van die Covid-19-pandemie, en deur die toekenningsgeleentheid steeds te laat plaasvind, hetsy aanlyn, kan die onvermoeide werk van radiostasies oor die land uitgelig word in ʼn tyd wanneer goeie nuus werklik verwelkom word.”

Die komediant Loyiso Madinga het die wenners aangekondig. (Skermgreep uit video)

ʼn Rekordgetal van meer as 2 000 inskrywings is van 160 radiostasies ontvang. Dit was ook die eerste jaar dat die Stasiebestuurderskeuse-toekenning uitgedeel is vir bydraes wat gelewer word deur werknemers agter die skerms. Dié toekennings het aan Marika de Jongh van OFM en Linda van Schalkwyk van Pretoria FM gegaan.

Groot FM se #Slatdiepad-program met Ruben Delmage as aanbieder is aangewys as wenner in die Laatmiddagverkeersgleuf-kategorie vir gemeenskapsradiostasies. Pieter Cloete se Reg of Verkeerd-program, die Kom ons praat daaroor-program met Su-an Müller-Marais, Francois Botha, Jacques Erasmus en Susan Botha en die Gister se grotes-program met Francois van Rensburg is ook as wenners aangekondig.

“Dit is die derde jaar dat ek vir ʼn Radiotoekenning benoem is en die eerste keer dat ek gewen het. Nuus en aktuele onderwerpe is my eerste liefde en daarom die passie vir die program Reg of Verkeerd,” sê Cloete. Die program word Dinsdae tussen 20:00 en 21:00 uitgesaai.

“Ek hou daarvan om gesprekke met kenners te voer oor alledaagse aktuele sake. Ek voel ook baie bevoorreg om deur my kollegas in die radiobedryf raakgesien te word, veral as jy kyk wie die ander inskrywings in die kategorie was. Ek is dankbaar dat die insette wat ek lewer om mense op te voed wel raakgesien en waardeer word.”

Puk FM is ook met drie toekennings vereer. Charonike Nel, stasiebestuurder vir Puk FM, sê ʼn platform soos die Radiotoekennings is belangrik vir die bedryf.

“Dié toekenningsgeleentheid is die enigste jaarlikse geleentheid waar gemeenskaps- en kampusradiostasies op dieselfde vlak as die grootste stasies in die land is en waar stasie- en programbestuurders talent kan raaksien,” sê Nel.

“Radio is in hierdie moeilike tyd steeds een van ons land se primêre bronne van inligting en die belangrikste kommunikasiemedium vir nuus aangesien dit toeganklik en gratis is. Ironies genoeg gaan hierdie medium ook gebuk onder groot uitdagings tydens die algehele afsonderingstydperk.”

Jacaranda FM is onderskeidelik met die toekennings vir beste ontbytprogram vir Breakfast with Martin Bester en beste gemeenskapsprojek vir die Good Morning Angels-projek in die kategorieë vir kommersiële stasies vereer.

Bester het gesê die toekennings is alles te danke aan die stasie se luisteraars. “Dankie dat julle na ons luister en deel is van ons oggendfamilie – ook dat julle saam met Good Morning Angels huil en saam met ons bly is wanneer ons iemand in nood kan help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.