Chris Chameleon: Die verwesenliking van manlikheid

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Dat die son in die ooste opkom en in die weste sak, was ʼn gegewe toe ek ʼn tjokkertjie was. So was dit ook die geval met die verskil tussen man en vrou. Die son volg (toe ek laas gekyk het, vanoggend en gisteraand, dus) nog steeds die verwagte patroon, maar onlangs het die kwessie van wat die verskil tussen ʼn man en ʼn vrou is, skynbaar minder seker geword.

Wat ek wel agterkom, is dat diegene wat klou aan die ouer definisies geneig is om saam te stem onder ʼn stel definisies wat as konsensus beskryf kan word, terwyl die aanhangers en propageerders van die nuwe definisies, nog nie eenparige en/ of koherente definisies het nie. Waar die nuwe denkers wel ooreenstem, is in hulle oortuiging dat die ou denkers moet afsien van hulle ou denke, en solank ʼn stroom in die nuwe denkrigting moet volg, tot tyd en wyl die nuwe denke konsensus bereik.

Gelukkig is daar in die nuwe denkrigtings ook groot klem op die waarde van die persoonlike ervaring as verwysingsraamwerk vir die vasstelling van menslike eienskappe. Hoewel ek voel dat om so ʼn lukrake fenomeen as bepalend vir die vasstelling van enigiets in te span verdag baie ooreenkomste met ʼn sandfondasie toon, regverdig dit vandag vrye teuels vir die dinkvosperd van my eie geopperde oordenkings.

Hier dan ʼn versameling staaltjies van ʼn selferkende man se reis na manlikheid.

Toe ek vyf was, het ʼn loodgieter kom werk aan die woonstelblok se verstopte pype. Dit het hom langer geneem as wat enigiemand gereken het dit sou, en dit was laatmiddag toe hy swetend, stinkend en swetsend die probleem verduidelik het aan die klein skaretjie inwoners wat al nuuskierig kom kyk het na die bedrywige rioolpetalje aan die weste-vleuel van die gebou. ʼn Boomwortel het in die een pyp ingegroei en hy kon dit nie daar uitkry nie. Hy het in Engels verduidelik dat net ʼn kind se arm daar sal kan inkom om die ding uit te trek.

“My seun sal dit kan doen,” het my ma aangebied.

“Werklik?,” het die loodgieter in ongeloof gevra.

“Vra hom maar,” het my ma hom aangemoedig.

Hy het my gevra en ek het op my maag in die rioolplas gaan lê, my arm in die rioolpyp gedruk en die wortel tot groot gejuig van die skaretjie uitgetrek. My ma het my daarna deeglik gewas en daar was vir my geen kwade nagevolge nie. My sussie en die bure se dogter, ook kinders, was ook bly en ek het vir ʼn week soos ʼn held gevoel.

Toe ek tien was, het mnr. Huyser, die koshuisvader, my by ʼn skoolmakietie laat saam braai. As enigste man tussen my ma en suster in ʼn Johannesburgse woonstel het ek nog nooit gebraai nie. Dit was vir my ʼn onvergeetlike inlywing by die manneklub.

Toe ek op 13-jarige leeftyd terug stad toe gekom het, moes ek van huis tot huis stap om koerantintekenare te werf vir my koerantroete, want “ʼn man kyk nie in sy ma se oë vir sakgeld nie” en het op hoërskool elke oggend 4:30 in die pad geval om my 19 km-roete op ʼn BMX te bedien. Ek was die man met die diep sakke.

As man het ek in Februarie 1990 dienspligtig ingeklaar by vier Suid-Afrikaanse infanterie bataljon in Middelburg. My lewe was makliker verhandelbaar as die van my meisie en my suster, en daarmee stry ek tot vandag nie. Een man kan teoreties duisende vroue dek, maar ʼn vrou kan by slegs een man op ʼn slag ʼn kind verwek – haar groter waarde vir die voortbestaan van die menslike ras en die daaruit voortspruitende verantwoordelikheid vir haar beskerming is in enige paradigma steeds onaanvegbaar.

Liefdesteleurstellings was daar baie, maar geen so treffend soos die een wat my op 27-jarige ouderdom getref het nie. Ek het sedertdien uit ander manne se verhale agtergekom dat dit ʼn verbasend konsekwente ouderdom is vir ʼn hardverworwe ontwaking in persoonlike manlikheid. By vrouens merk ek ʼn soortgelyke ontwaking op 23 jaar. Dis nie ʼn goue reël nie, maar merkwaardig konsekwent.

In die geveg vir die behoud van my lewe, toe hulle my daardie nag in 2004 met messe in my bed in my huis toegetakel het, sou dit uit hoofde van die verskille tussen die skatte in ons lendene en die wringkrag in ons pese voorsienbaar anders verloop het indien ek ʼn vrou was of selfs ʼn vrou by my in die bed gehad het.

En na al hierdie staaltjies weet ek nog steeds nie wat ʼn man is nie, maar ek weet dat die dogters wat ek verwek het, my hoër eise aan mans laat stel as wat ek my ooit andersins eens kon voorstel. Ek weet ook dat my eie dogters my eendag mag verlaat en dat dit tans as ʼn hartebreek vir my in die vooruitsig staan, omdat ek hulle liewer het as enige aster met wie ek ooit ʼn liefdesteleurstelling beleef het en des te meer omdat ek weet dat ek daardie skeiding nie net gaan moet aanvaar nie, maar ook met my hele wese gaan moet seën.

En ten slotte, die groot kruis: ek weet dat ek as man die grootste diens aan my kinders kan bewys en die mees volkome uitlewing van my manlike mandaat kan bereik deur die volste krag van toewyding tot my vrou. My vrou wat hierdie toewyding nie in gelyke mate aan my kan terugbied nie, omdat sy daardie hoogste sport van toewyding in die liefderyke bediening van ons kinders moet verwesenlik, soos gelei deur haar vroulike uitlewing.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Podsendings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linda ·

Ons kry dikwels kritiek dat die kinders meer aandag kry tog is dit verskillende verhoudings en sal ons vroue dit nie altyd verstaan nie.

Petrus Albertus ·

Sjoe Chris Chameleon, hierdie is ‘n pragtige stuk werk! So mooi menslik gestel.

Paul ·

Hy word net beter en beter! Amper iets soos ons eie Chesterton!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.