Engele van welwillendheid

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Daar’s engele op hierdie aarde. Dit besef ʼn mens opnuut as jy ʼn draai gaan gooi op Worcester in die Wes-Kaap – soos ek onlangs die voorreg gehad het.

Die inwoners maak daarop aanspraak dat hulle dorp die hoofstad van welwillendheid in die land is. En dit kan heel moontlik die geval wees, want daar is verskeie gevestigde instansies op Worcester wat spesialiseer in die versorging van mense met gestremdhede van verskeie soorte soos vir blindes, dowes en veelvoudige breingestremdhede.

Ons besoek het begin by die Instituut vir Dowes. Die bestuurshoof is Cobus van Deventer. Hy praat met toewyding en kennis. Die instituut is nou amptelik besig met ʼn groot projek om ʼn woordeboek vir gebaretaal saam te stel. Dit is ʼn belangrike stap en het daartoe bygedra dat gebaretaal onlangs amptelik as die twaalfde landstaal erken is.

Soos uit die verduideliking blyk, is dit ʼn reusetaak. Daar is na raming sowat 6 600 gebare-tekens. Die probleem is dat daar internasionaal verskeie “dialekte” bestaan. Vir een woord kan daar verskeie gebare wees. Selfs in Suid-Afrika bestaan verskillende dialekte van streek tot streek, gemeenskap en ouderdomsgroepe.

Daar is 42 skole vir dowes in die land. Hulle almal is gevra om deel te wees van die projek. As daar verskillende betekenisse geheg word aan ʼn gebaar word dit aangeteken in die elektroniese woordeboek. As jy op ʼn bepaalde woord klik, verskyn die verskillende prentjies van gebare wat daarvoor gebruik word in volgorde van voorkeur. Die instituut hoop dié benadering sal daartoe lei dat die minder gebruikte weergawes sal verdwyn sodat die taal meer gestandaardiseer kan word.

Volgens Cobus is dit ʼn moeilike taak om gebaretaal aan te leer. Hyself, as horende, kry twee klasse per week om die gebare-sleutels onder die knie te kry wat hom sal laat kan deurbreek na die kommunikasiewȇreld van die dowes. Hy meen dit sal etlike jare neem om die taal behoorlik te kan “praat”. Tog was ons verstom oor hoe vinnig ʼn ervare tolk kan byhou om te “vertaal” as iemand teen gewone spoed praat.

Nog ʼn aspek wat die aanleer van die taal bemoeilik, is dat hy sy eie struktuur en grammatika het. ʼn Sin begin byvoorbeeld met die voorwerp. ʼn Gebaar verteenwoordig nie een letter nie, maar ʼn volle woord of begrip. Dis nie ʼn spreektaal nie, maar ʼn wystaal. Dit bestaan uit die volgende elemente: die gebruik van net een vinger op verskillende maniere, twee of meer vingers, die palm van die hand, die aanraak of wys na ʼn deel van die liggaam, die beweging van die liggaam en gesigsuitdrukkings.

Tegnologie speel deesdae ʼn al groter rol in die behandeling van doofheid soos ʼn gehoor-apparaat wat klank in die oor versterk. Of selfs operasies.

By die Innovasie vir Blindes op die dorp ontmoet ons ʼn besonderse persoon. Hy is byna heeltemal doof en blind. Hy maak op ʼn besonderse wyse met die buitewȇreld kontak. As blinde dra hy ʼn elektroniese apparaat op sy maag wat lyk soos ʼn selfoon wat ʼn bietjie dikker is. Jy kan dan ʼn boodskap per selfoon aan hom stuur. Dit word deur die apparaat omgeskakel in ʼn soort braille-skrif wat hy op die oppervlakte van die apparaat voel en “lees”. Dit doen hy met sy regterhand.

Met sy linkerhand neem hy Stephné Botha (die bestuurshoof) se regterhand. Hulle begin met wat lyk soos ʼn gestoeiery. Die bewegende arms en vingers dra dan bepaalde boodskappe oor. Met die vingers van die linkerhand skryf sy letterlik in sy palm. Die twee gesels so land en sand met mekaar en kort-kort bars hulle uit van die lag. Dit is verstommend hoe ʼn man wat soveel gestremdhede het soveel lewensvreugde kan hê.

En dit deur Stephné en haar span se toewyding.

By die Sean Kelly-sentrum op die dorp is ʼn spesiale instelling waar 28 versorgers na 42 kinders omsien. Die bestuurder, Nicky Labuschange, vertel van die groot uitdaging om kinders met sulke omvattende gestremdhede nogtans met liefde en menswaardigheid te behandel. Voordat sy ons na binne neem waarsku sy dat ons nie moet skrik nie. Dis nogtans ʼn skok op die gestel om te sien hoe sulke kinders totaal hulpbehoewend is en sal bly. ʼn Mens is nogtans bemoedig dat omgeemense, soos engele, na die veelvuldige gestremdes omsien.

Soos ʼn mens maar van die regering kan verwag word min, of niks staatsgeld bewillig vir sulke inisiatiewe nie. En as daar staatsbefondsing is, word dit elke jaar besnoei. Dis hoofsaaklik maar die privaatsektor of burgerlike samelewing wat die grootste bydrae lewer. In die besonder moet hier genoem word die Welwillendheidstrust van die Pool-Familie van Worcester.

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Podsendings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Benn ·

Innovasie vir Blindes is die wonderlikste plek en die personeel is almal wonderlik!

Lourens ·

Vir die afgelope 5 jaar skenk my kerk audiobybels aan Pionierskool vir siggestremdes. Wonderlik om die ophelder van ‘n gesig te sien as hy of sy die Woord kan hoor net deur ‘n knoppie te druk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.