Inperkings nie volhoubaar; IMF maan SA om begroting aan te pas

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Morné Prinsloo)

In die jongste 3 Minute, 3 Sake verduidelik Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga waarom die organisasie meen die inperkingsmaatreëls is glad nie ekonomies volhoubaar nie en dat dit Suid-Afrika op ʼn glibberige glybaan van verdere inperkings plaas. Hy praat ook oor die IMF se druk op die regering om sy begroting aan te pas na die onluste vroeër die maand.

Pres. Cyril Ramaphosa het veranderinge aan die vlakke van die ramptoestand aangekondig.

Die uiteinde was ʼn terugkeer na vlak 3 van inperking. Sekere maatreëls, soos maskers en kapasiteitsreëls bly van krag, maar drankwinkelverkope is gedeeltelik herstel.

In reaksie het Sakeliga ʼn beroep op ondernemings gedoen om skadelike staatsinmenging by hul strategie te verreken.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, meen dit sou ʼn gunstige tyd gewees het vir die regering om met “onmiddellike inwerkingtreding” van skadelike beleid afstand te doen.

Die oplossing, volgens Le Roux, is beslis nie ʼn nie-volhoubare uitbreiding van die welsynstaat nie. Die oplossing is eerder om die ekonomie toe te laat om te herstel, wat in werklikheid beteken om mense die vryheid te gun om ʼn lewe te kan maak.

Die ANC-regering, reken Sakeliga, neem beleid in ʼn rigting wat vir ondernemings onaanvaarbaar is.

Die herstel, meen Sakeliga, moet nou plaasvind, ongeag die doen en late van ʼn sentraliserende regerende politieke klas.

Verskeie instellings het die afskaffing van die algehele verbod op drankverkope verwelkom.

Die vraag is egter tot watter mate so ʼn herstel van vryhede op sigself miskien ʼn dieper vraag oor vryheid en regeringsdwang stel.

Moet vryhede soos hierdie sodanig op die spel wees?

Dieselfde regering wat drankverkope verbied, kan nou bykans enige gedrag verbied, solank daar ʼn rasionaal vir “openbare gesondheid” daaraan gekoppel word.

Kan die toekoms selfs dinge soos nuwe klimaatinperkings inhou? Soos om ʼn beperking op die gebruik van motors te plaas om uitlaatgasse soos koolstofdioksied te beperk. Is dit miskien die glibberige glybaan waaroor soms gewaarsku word?

Die ergste hiervan is miskien dat baie mense oor die laaste paar maande as “nie-noodsaaklik” deur regerings gebrandmerk is en regstreeks verbied is om self ʼn lewebestaan te maak. As dit nie is nie, wat is dan ʼn oorskryding van magte?

Die vrae oor doeltreffende remme en teenwigte, vryhede, moontlike misstappe deur owerhede, is vrae waarmee gemeenskappe nou in erns te kampe het.

En laaste, die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het SA gemaan om sy nasionale begroting weens die onlangse onluste te wysig.

Die IMF is van mening dat die regering sy uitgawes moet herprioritiseer.  ʼn Fokus op noodleniging ná die onluste is nodig, maar te veel nuwe skuld kan die staatsfinansies op ʼn “plofbare” plek sit.

Die IMF meen dat as geld vir noodleniging nie in die begroting gevind kan word nie, behoort die regering strukturele hervorming toe te pas om private belegging en werkskepping te lok.

Gunstige toestande moet geskep word vir mense om werk te kry, meen Max Alier, die IMF se verteenwoordiger vir Suid-Afrika, berig Businesstech.

Sakeliga kan dit net beaam en byvoeg dat die regering nie bloot uitgelewer is aan eksterne faktore nie. Die regering se eie skadelike beleide speel aktief ʼn rol in die misnoeë van baie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.