Luister: Drie wyshede vir beginnerondernemers

Ajay Wasserman, ʼn jong en dinamiese entrepreneur van Pretoria, gesels in Maroela Media se ateljee. (Foto: Ajay Wasserman/Facebook)

Hoe lyk Suid-Afrika se sakeomgewing, is dit enigsins haalbaar om ʼn onderneming op eie bodem te begin en te oorleef, en wat verg dit om ʼn suksesvolle entrepreneur te wees?

Ajay Wasserman, ʼn jong en dinamiese entrepreneur van Pretoria, gesels in Maroela Media se ateljee oor die plaaslike ekonomie en entrepreneurskap. Hy vertel ook waar sy loopbaan in die sakewêreld begin het.

Met die staats- en begrotingsrede nog vars in gedagte, sê Wasserman dat hy empatie met die land se leiers het.

“Ek dink pres. Cyril Ramaphosa en die regering is in ʼn moeilike posisie omdat daar verwag word dat hulle dít wat in meer as 15 jaar afgebreek is, weer in drie jaar moet opbou.

“Dan moet hulle nog die Covid-19-pandemie ook hanteer. As enigiemand anders in die president se posisie was, sou dit ook nie so ʼn maklike taak gewees het nie. Ons sou ook taai besluite moes neem wat ons nie in die beste lig plaas nie,” meen hy.

Wasserman skets ʼn toekomsbeeld vir ondernemers wat hoopvol blyk te wees.

“Die regering het agtergekom dat klein- en mediumsakeondernemings ʼn baie groot rol in die land se ekonomie speel. Daar is ʼn ombudsman wat hierdie groepe beskerm, so dit is nie dat die regering nie omgee nie. Daar is beslis ʼn plek vir ons.”

As dié 30-jarige entrepreneur egter die geleentheid gehad het, sou hy graag vir die regering ʼn vraag of twee wou vra.

“Wat ek vir hulle sou kon vra, is om nog meer moeite met klein- en mediumsakeondernemings te doen. Soos om belastingimplikasies te heroorweeg om dit vir daardie eienaars makliker te maak om sake te doen.”

Wasserman het van jongs af vakansies gewerk om geld te verdien. Hy vertel: “Ek het by ʼn vriend van my pa as elektrisiën gewerk. Ek het toe nogal baie van die konstruksiebedryf gehou.”

Op 15 het hy skool verlaat en toe voltyds as leerlingambagsman begin werk, terwyl hy nauurs studeer. Sowat twee jaar later het hy sy draadwerkerslisensie (“wireman licence”) gekry en sy eie elektriese onderneming begin.

“Dit was my eerste blootstelling aan entrepreneurskap. Ek het niks geweet nie en moes self swoeg om ʼn sukses daarvan te maak,” sê hy.

Beskou hy homself as suksesvol?

“As jy ʼn suksesvolle entrepreneur is, is dit net omdat jy suksesvolle mense om jou het. So, dit gaan alles oor die kennis om die werktafel en die ondersteuning wat jy van personeel kry. Is ek self suksesvol? Nee wat,” meen Wasserman.

Wanneer ʼn mens hom pols oor raad vir eerstekeer-entrepreneurs, is dit kort en kragtig.

“Droom groot, maak seker jy doen jou huiswerk, en as jy foute maak, maak dit vinnig.”

Wasserman verduidelik dat entrepreneurs voortdurend hulle drome moet uitdaag deur groter te droom.

Hy sê verder dat foute eintlik lesse word waaruit ʼn mens leer en dat jy mense aan boord van jou skip moet kry wat bekwaam is en wat die werk kan doen. “Moenie probeer om alles self te doen nie. Jy kan nie 15 hoedjies dra nie.”

Volg vir Ajay Wasserman op Facebook, YouTube of besoek sy webwerf om meer oor entrepreneurskap te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.