Luister in 3 minute: Donker wolk dreig oor inperking se trefslag op ekonomie

Sommige kennes sê dít wat Suid-Afrika die afgelope paar maande ondervind , is nie net ʼn resessie nie, maar ʼn volskaalse ekonomiese depressie. (Argieffoto: Maroela Media)

Die jongste Sakeliga-ETM-verslag skets ʼn sombere prentjie oor dít wat baie mense reeds weet, naamlik dat die gedwonge staat van inperking ʼn hewige tol geëis het wat mense se lewens en lewensmiddele betref.

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, kyk in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake na die inperkingsmaatreëls se gevolge op die ekonomie.

“Een kommerwekkende gevolgtrekking in die verslag is dat ondernemings wat die aanvanklike trefslag van die inperkingsmaatreëls gespaar is, nou ook deur moeiliker bedryfstoestande gekonfronteer word.

“Ondernemings moet vir ʼn kleiner ekonomie, en ʼn 10–20%-vermindering van omset en winste beplan. En massa-afleggings is ʼn wrede werklikheid.

“Herstel gaan lank duur. Prakties gesproke moet kapitaal en spaargeld, asook skade aan voorsieningskettings en skuldvlakke herstel word, terwyl belastingdruk sal toeneem,” sê Van Onselen.

Sakeliga meen om te herstel moet gedwonge inperkingsmaatreëls beëindig en ander skadelike beleidstellings hersien word.

“Die plaaslike ekonomie het steeds baie potensiaal. Dit kan weer ontgin word wanneer skadelike inperkingsmaatreëls verwyder word – die vraag is egter of die heersende politici uit die pad daarvan sal tree.”

Absa het ook sy voorlopige resultate vir die eerste helfte van 2020 vrygestel. Die groep wys daarop dat die afsonderingstydperk die grootste ekonomiese intuimeling in 90 jaar gaan meebring. Absa se voorsiening vir slegte skuld het verder hewig toegeneem.

“Ons sien byvoorbeeld plaaslike skuldberaders – Debt Busters – wat meen dat verbruikers se skuldlas met sowat R21 miljard weens die staat van inperking geklim het.

“Heel verstaanbaar het heelwat verbruikers skuldbetalings uitgestel, maar daardie geld moet nou met rente terugbetaal word. Dit hou ekonomiese gevolge in,” sê hy.

ʼn Onlangse verslag deur die Verenigde Nasies (VN) se Ontwikkelingsprogram dui ook op die skadelike uitwerking van Covid-19 (of eerder die owerheidsreaksie daarop) – ʼn reuseterugslag vir werkloosheid, armoede en welvaart.

Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, is een van die ondertekenaars, terwyl die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, meen dat daar in die VN-verklaring geen meesterplan vir die hantering van Covid-19 was nie.

“Tog sien ons dat die SA regering een van die strengste en uitgerekste inperkings ter wêreld afgedwing het. En heelwat stemme het van die staanspoor af oor sekondêre gevolge gewaarsku.

“Is ander pandemies, soos die vergete Hongkong-griep van die laat 1960’s, ook so onoordeelkundig gehanteer?”

In haar voorlegging wys die VN-ekonoom Fatou Leigh ʼn pessimistiese prentjie, soos dat tot 34% van plaaslike middelklas-huishoudings in gevaar is om tot ʼn meer kwesbare finansiële vlak te daal.

Ander gevolge van onder meer armoede, wanvoeding en ontwrigting van mediese dienste, soos by MIV-behandeling, moet nog aan die lig kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.