Luister in 3 minute: Druk op regeringbegroting nader krisisvlak  

IMF

Die IMF gesê Suid-Afrika sal dapper moet optree om die ekonomie die nodige hupstoot in 2018 te gee. Foto: Bnr.bg

Gerhard van Onselen, ʼn ontleder by Sakeliga, kyk in die jongste 3 Minute, 3 Sake na die ANC wat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) vir ʼn lening genader het, na RCL Foods en die druk op regeringbegroting.

Pres. Cyril Ramaphosa het luidens berigte die IMF vir ʼn lening van R71 miljard genader.  Hierdie stap word as veelseggend deur sommige ontleders beskou.

Lumkile Mondi, ʼn lektor in Ekonomie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), meen dat dit die eerste stap is om die ANC se alliansievennote sag te maak vir groter IMF-lenings in die toekoms.

Wat ook duidelik is, is dat sulke lenings sterk deur alliansievennote, soos Cosatu, teengestaan sal word.

Hierdie lening is vir Covid-19-verligting. Dit is nog nie ʼn lening met hervormingsvoorwaardes nie. Latere lenings mag sulke voorwaardes vereis – ʼn idee wat natuurlik sommige ‘kaders’ wat baat uit die staat die skrik op die lyf sal jaag.

Moneyweb meen wel dat die koronavirus die weerstand van die regering om van die IMF te leen afgebreek het. Hervorming is nodig en IMF-voorwaardes kan daartoe help.

In dié stadium is die regerende party se keuse verdere plunder en ineenstorting, of omkeer, markvryheid en herstel.

Volgende kyk Van Onselen na die impak van die afsonderingstydperk op RCL Foods. RCL voorsien byvoorbeeld hoender aan KFC-restaurante.

“Ons let daarop dat RCL kos produseer. Nogtans, ongeag die toelatings vir bedrywighede soos kosproduksie wat die regering as essensieel bestempel het, voorsien RCL ʼn groot intuimeling in sy winste.

“Rede daarvoor is natuurlik die gedwonge sluitings van kitskosrestaurante waartydens selfs afleweringsdienste nie eens toegelaat was nie. Uiteindelik sien ons weer die geïntegreerde aard van die ekonomie in aksie,” het Van Onselen gesê.

RCL se daling in winste het natuurlik invloede wat oorspoel na ander besluite, soos toekomstige beleggingsbesluite. RCL wat wel nog winste maak is natuurlik in ʼn beter posisie as talle ander ondernemings wat steeds nie mag oopmaak nie.

(Grafika: Sakeliga.)

Laastens bespreek Van Onselen ETM Macro Advisors se aanwyser oor die druk op die regering se begroting. Hierdie aanwyser word amptelik bekendgemaak in Sakeliga se komende kwartaallikse ekonomie-oorsig.

“Die begrotingsdrukaanwyser dui daarop dat druk op die regering se begroting tydens die grendeltyd skerp hoër geneig het. Nuwe staatslenings en voortgesette rente-uitgawes sal binnekort 40% van alle openbare besteding uitmaak. Op hierdie trajek sal dié syfer maklik naderhand 50% kan verbysteek.

“Die regering voorsien ’n aansienlike toename in besteding wat veronderstel is om die effek van die gedwonge inperkings te versag. Maar die inkomste uit belasting sal na verwagting met sowat R300 miljard afneem. Duidelik sal druk dan toeneem,” het Van Onselen gesê.

Hy het bygevoeg wanneer sulke ratio’s tot bokant 40% klim, word dit egter beskou as ʼn ernstige waarskuwingslig vir ʼn dreigende fiskale krisis. “Ons hou sulke aanwysers dop en rapporteer graag terug.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Nee wat die regering luister na niemand en doen soos hulle wil.Ek glo nie hulle verstaan mooi wat regtig besig is om te gebeur nie.Maar van raad en advies aanvaar sal hulle nie.

marius ·

Van algeheel onafhanklik tot die vuilste bedelaar in 27 jaar .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.