Luister in 3 minute: Grond, graderingsagentskappe en buitelanders wat groet

land-landbou-grond-deur-carlo-verso-unsplash

Foto: Carlo Verso/Unsplash.com

In 3 Minute, 3 Sake bespreek Sakeliga hierdie week die presidensiële adviespaneel se grondverslag, die graderingsagentskappe se kommer oor Eskom en buitelanders wat besig is om hul Suid-Afrikaanse bates teen ʼn rekordspoed te verkoop.

Presidensiële adviespaneel se grondverslag

Die paneel is teen die einde van 2018 deur president Cyril Ramaphosa in die lewe geroep. Die paneel se verslag is die afgelope Sondag aan die publiek bekendgemaak.

Die verslag vereis verdere ondersoek, maar kortliks is dit ʼn voortsetting van die regering se burokratiese grondplanne wat op teen-mark-inmenging van die verlede voortbou.

Die gevaarlike voorstel vir onteiening sonder vergoeding is miskien ietwat afgewater, maar bly as ʼn metode van hervorming.

Daar word ook voorstelle vir bykomende wysigings gemaak soos, onder meer, vir die uitbreiding van grondeise gekoppel aan artikel 25(7) van die Grondwet. So ook word ʼn wysiging van artikel 25(6) voorgestel, wat uitsettings by plase feitlik onmoontlik sal maak.

Die verslag veronderstel by uitstek ʼn groot staat en ʼn reusegrondburokrasie. Hierdie voorstelle sal grotendeels indruis teen die werking van die vrye mark in grondsake.

Grondeienaarskap sal duurder en moeiliker word. Ingrepe by stedelike grond word voorgestel. Dit kan net gebeur met groot rykdomoordragte deur middel van verdere belasting.

Moody’s en Fitch bekommerd oor Eskom se enorme reddingsboei

Moody’s reken dat ʼn bykomende reddingsboei nie die probleme by Eskom sal bylê nie. Die bykans R60 miljard aan Eskom gaan wel verdere druk op die staatskas plaas.

Daarmee kom belastingdruk, indien besteding nie genoegsaam gesny word nie. Moody’s beskou die hulppakket aan Eskom as “kredietnegatief”.

Die druk op Moody’s om die Suid-Afrikaanse regering se skuld na rommelstatus aan te pas, is nou nog groter is vantevore.

Fitch Ratings het die vooruitsig vir Suid-Afrika se skuldgradering na negatief hersien. Dit beteken ʼn groot kans dat Fitch SA se gradering, wat reeds in “rommelstatus” is, verder sal afgradeer.

Beide agentskappe het nie beduidende verwagtinge vir plaaslike ekonomiese groei nie. Dit is ook gesien bevestig met vandag se vrystelling oor werkloosheid.

Die eng werkloosheidskoers staan nou by 29%, die hoogste sedert die eerste kwartaal van 2008.

Buitelanders verkoop Suid-Afrikaanse bates teen ʼn rekordspoed

Volgens Bloomberg is buitelanders besig om Suid-Afrikaanse bates teen ʼn rekordspoed te verkoop. Dit volgens ʼn datareeks wat by 1998 begin.

Vanaf die begin van 2019 tot nou toe het buitelanders bates ter waarde van R4,8 miljard verkoop. Die syfer was aansienlik minder bereken vanaf 2018 tot nou toe.

Die uitvloei volg op die swak plaaslike vooruitsigte weens Eskom en die benarde fiskale prentjie. Hierdie toedrag van sake kom al lank aan – soos skadelike beleide en ʼn teenmarkideologie wat plaaslike vooruitsigte ondergrawe. Ingrypende vryemarkgerigte beleidhervorming is nou die enigste kans vir ʼn ommekeer.

  • Luister na Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, se volledige uiteensetting van hierdie week se grootste sakekwessies boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.