Luister in 3 minute: ’n Herstelplan, elektrisiteit en nog ’n mini-begroting

(Argieffoto: Severin D./Unsplash)

Gerhard van Onselen, ʼn ontleder by Sakeliga, is terug met nog ʼn aflewering van 3 Minute, 3 Sake en hy bekyk eerste die presidensiële herstelplan. Daarna bespreek hy ook die besluit dat munisipaliteite nou hulle eie krag mag opwek en die aanloop tot nuwe “mini-begroting”.

Pres. Cyril Ramaphosa se veel besproke herstelplan is verlede week bekendgestel. Die belangrikste aspekte van die plan is grootskaalse openbare indiensneming, openbare infrastruktuur en planne oor elektrisiteit.

“Die plan stel egter steeds die staat sentraal tot herstel en ontwikkeling. Daar bly ʼn sterk klem op transformasie soos die ANC dit sien natuurlik,” sê Van Onselen.

Sakeliga meen groter openbare indiensneming gaan uiteraard die las op die fiskus vergroot, wat bykomende druk op belastingbetalers beteken. Moontlike ligpunte is wel stappe wat nou gedoen is vir die hervorming van elektrisiteitsregulasies en private toegang tot die spoorweë.

“Openbare infrastruktuurprojekte is projekte wat amptenare as waardevol beskou – en is moeilik onderworpe aan die ‘marktoets’. Die gevaar is dan dat private hulpbronne na nie-volhoubare projekte gekoöpteer en dan verkwis word, wat sal lei tot kapitaalverarming.

“Ons groot kritiek op die plan is egter dat dit nie skadelike duur beleide soos regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en arbeidswetgewing in trurat geplaas het nie. Die plan beskou steeds staatsbesteding as die oplossing. Dit is tans geensins volhoubaar nie.”

Van Onselen beskou die stappe wat nou gedoen is om munisipaliteite toe te laat om elektrisiteit self buite Eskom aan te koop, as ʼn tikkie goeie nuus.

Regulasies is vandeesweek gepubliseer waarvolgens munisipaliteite hul eie kragopwekkingsprojekte kan ontwikkel. Die regulasies hou verband met artikel 34-bepalings van die Wet op Elektrisiteitregulering.

Ander hervormings, soos dat stede ook eie elektrisiteit kan aankoop, word luidens mediaberigte oorweeg.

“Op sigself is hierdie toedrag van sake beter as vantevore. Dit is wel die geval dat daar steeds voorwaarde is: Die kragprojekte moet ‘volhoubaar’ wees. Die betrokke munisipaliteite moet in goeie finansiële stand wees, en projekte moet met die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) belyn wees.

“Dit is dus nog geensins ʼn ‘vrye mark’ in elektrisiteitsopwekking nie, want talle nie-markvereistes geld. Verder is die vraag tot watter mate munisipaliteite – baie van hulle disfunksioneel – sulke projekte op dreef sal kry en reg sal bestuur.”

Laaste kyk Van Onselen na die aanloop tot die mini-begroting. Die begroting is aanvanklik uitgestel, maar dit lyk of die toespraak op 28 Oktober sal plaasvind.

“Tito Mboweni, minister van finansies, het duidelik sy hande vol. Tans staan die geraamde uitgawes van die regering by omtrent 38% van die bruto buitelandse produk (BBP) terwyl inkomste hard geval het. Geprojekteerde skuldvlakke groei ook stewig.”

Volgens die begrotingstresaanwyser wat ETM Macro Advisors saamstel, betree die fiskus nou ʼn histories gevaarlike terrein.

“Druk op besteding is groot. Die tesourie moet nou nog R6 miljard vir bykomende Covid-19-toelae iewers uitkrap. Sekere ekonome is van mening dat belastingverhogings die enigste uitweg is, maar die realiteit is dat sulke verhogings polities moeilik is, en met min voorsienbare inkomste daaruit.

“Belastingverhogings kan in die stadium disproporsioneel skadelik, selfs vir die fiskus, wees. Die enigste plan, meen ons, is dat die staat se invloed oor bedrywighede en hulpbronne moet verklein.

“Daarby moet spaar en gesonde investering aangemoedig word: Die beste manier daarvoor is om die beleidsomgewing meer aantreklik te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae