Regeringsbeleid, Covid-19 en rommelstatus kniehalter ekonomiese herstel

rommelstatus-pexels

(Argieffoto: Pexels/Pixabay)

In vandeesweek se aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, senior ontleder van Sakeliga, die kredietgradeerders se besluit om die plaaslike regering se skuld nog dieper in rommelstatus af te gradeer. Hy kyk ook na Sakeliga se jongste verslag wat ʼn oorsig oor die ekonomie gee, en gee ʼn blik op die Netcare-groep se handelsoorsig.

Die kredietgradeerders Moody’s en Fitch het die Suid-Afrikaanse regering se skuld dieper in sogenaamde rommelstatus in afgegradeer.

Sommige, soos die minister van finansies, Tito Mboweni, het op Twitter gemeen dat die gradeerders Suid-Afrika skop terwyl hy lê. Mboweni het amptelik die afgraderings as pynlik beskryf en verder, ten minste, ook genoem dat strukturele hervorming nou ʼn noodsaaklikheid is.

Die realiteit is egter dat die Covid-19-situasie swak beleid se impakte versnel het. Fitch verwys na probleme wat lank voor die pandemie ’n werklikheid was: Dit sluit in verswakte beleggings, probleme met elektrisiteit en onbuigsame arbeidsregulasies.

Moody’s wys tereg daarop dat Suid-Afrika nie alleen geraak is nie, maar die land se kapasiteit om die skok te deurstaan is swakker as sy eweknieë s’n.

“Die harde realiteit is dat die kredietgradeerders nooit slim beleggers onkant sal betrap nie. Gradeerders sertifiseer grootliks bestaande realiteite en die trajek van skuld, wanregulering en onderdrukking van sake was reeds goed in die plaaslike regering se beleid gevestig. Dit is eintlik wat pynlik is,” meen Van Onselen.

Sakeliga gaan hierdie week sy kwartaallikse “Ekonomiese Oorsig vir Besluitneming in die Sakewêreld vrystel. Dié verslag wys op verskeie faktore wat die ekonomie van Suid-Afrika se kanse op herstel onderdruk.

“Een faktor is regerings wat verbete aan inperkingsmagte vaskleef. Voeg daarby vrese oor tweede golwe van die Covid-19 en nuwe strenger afsonderingmaatreëls. Nuwe inperkings, indien plaaslik, maar ook by handelsvennote, sal ʼn brose herstel verder bemoeilik.”

Van Onselen sê die verslag gee op die plaaslike beleidfront die Ramaphosa-administrasie tans 40 uit 100 op ʼn telkaart van ekonomiese beleid. Dit is beter as die 30 uit 100 vantevore. Die rede vir ʼn minder swak telling is die relatiewe versigtigheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), effe beter elektrisiteitsvoorsiening teenoor vantevore en indiensneming sedert die tweede kwartaal se ineenstorting.

“Fitch beskryf die tesourie en SARB as instellings wat stabiliteit ondersteun. Die SARB is ongelukkig ook in die visier van die beleidkapers soos die EFF.

“Die verslag meen waaksaamheid oor ‘bateplundery’ deur staatsbeleide soos onteiening sonder vergoeding en voorgeskrewe bates is tans uiters nodig,” sê Van Onselen.

Laaste ʼn nota oor Covid-19 se hantering en die impak op hospitale. Die Netcare-groep het aangedui dat hul winste skerp afgeneem het.

Die groep se onlangse handelsoorsig wys dat bolyn-inkomste met sowat R4 miljard verminder het. Wins ná belasting was sowat 80% minder – gedaal van R2 400 miljoen in 2019 tot sowat R500 miljoen in September 2020.

Netcare se inkomste en winste het afgeneem omdat algemene gesondheidsorg ontwrig is. Baie elektiewe prosedures is gestaak en oor die 2020-boekjaar was Netcare-hospitale gemiddeld net sowat 53% vol.

“Alle operasies en behandelings dra natuurlik by tot hospitale se inkomste. Geld wat gemaak word, word dan weer deurlopend op mediese infrastruktuur, kapitaal en personeel bestee. Die pandemie se afsonderingtyd en vrees het daardie siklus grootliks ontwrig.

“Ons het ook vantevore berig dat sommige behandelings en toetse vir TB, HIV, kankers en ander prosedures soos vir hartsiektes waarskynlik ontwrig is. Dit gaan gevolge hê, selfs op toekomstige openbare gesondheid. Die impak van verswakkings van hospitale se finansies moet ook nou verreken word,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.