Luister in 3 minute: Waar lê Suid-Afrika op die Wêreld-Ekonomiese Forum se ranglys?

Wêreld-Ekonomiese Forum (Foto: ANA)

In die jongste 3 Minute, 3 Sake kyk Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, na mededingingsregulasies wat verskerp is, ʼn nuwe energieplan wat bekendgemaak is en waar Suid-Afrika op die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF) se ranglys lê.

Die Mededingingsowerheid het voorstelle vir wysigings aan mededingingsregulasies in Suid-Afrika gepubliseer. Die kommissie beoog om regulasies in te stel wat kleiner ondernemings teen groter dominante maatskappye beskerm.

Kragtens hierdie wysiging sal die kommissie omvattender stappe kan doen om ooreenkomste wat tussen maatskappye aangegaan word, te ondersoek. Die wysigings is egter gekritiseer omdat dit risiko’s vir verskeie markspelers sal verhoog.

Van Onselen bespreek ook verder die jongste energieplan, oftewel IRP, wat die departement van minerale bronne en energie gepubliseer het. Die Suid-Afrikaanse mark het lank gewag vir die IRP vir 2019 om vrygestel te word, nadat dit verskeie kere uitgestel is.

Die vrystelling, sê Van Onselen, het ironies genoeg in dieselfde week as die jongste rondtes beurtkrag plaasgevind. Die IRP beoog om ʼn bloudruk vir verskillende energiebronne vir die land voor te stel, insluitend wind- en sonkrag en kleinskaalse kernkrag. Die plan behou Eskom as die groot aankoper van elektrisiteit.

Die IRP stel ook voor dat nuwe alternatiewe bronne van krag gebou word en dat verder van steenkool-aangedrewe kragstasies beweeg sal word. “Die vraag is egter of markkragte deur burokrasie gaan breek en of die voorsiening van krag van die Eskom-ramp ontkoppel gaan word? Die IRP praat natuurlik van die laagste koste-aankope, maar tog mag ons wonder oor die impak van voorkeurverkrygingsbeleid en BEE op die koste van toekomstige projekte,” sê Van Onselen.

Hy laat ook die kollig val op waar Suid-Afrika tans op die WEF se jongste mededingingsindeks lê. “Hoewel Suid-Afrika met ses plekke op die ranglys versterk het, berig die Rapport dat administratiewe hekkies, oftewel rompslomp, en ʼn onbuigsame arbeidsmark sake steeds onderdruk.”

Sekuriteit en veiligheid rem ook prestasies op die ranglys. Die land presteer egter steeds goed op die gebiede van finansiële, aandele- en kredietmarkte.

“Gee hierdie indekse vir ons werklik die volle prentjie?” vra Van Onselen en verwys na beleide wat uniek aan die Suid-Afrikaanse mark is wat nie in ag geneem word in die WEF se indeks nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Heidi ·

Maroela-Span, hier is nie ‘n podsending aangeheg nie. Sal julle dit groot asb regstel? Baie dankie .

Anja van der Merwe ·

Dagsê Heidi

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die podsending is bygevoeg.

Lekker luister.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.