Luister: Kom leer by Daniel, Rolene Strauss oor sukses

Daniel en Rolene Strauss is een van Suid-Afrika se mees produktiewe en doelgerigte paartjies. (Foto: Verskaf)

Sukses, hetsy in jou persoonlike lewe of professionele loopbaan, kán in ʼn oogwink gebeur.

Só sê Daniel en Rolene Strauss, een van Suid-Afrika se mees produktiewe en doelgerigte paartjies, wat binnekort hul eerste tweedag‑deurbraakseminaar in Stellenbosch en Johannesburg aanbied.

Die Strauss-egpaar het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê die doel met die seminaar is om hulle harte, siele en kennis met mense te deel wat op soek is na verandering in hulle persoonlike lewe, loopbaan of besigheid.

“Jy hoef nie te weet wat al die regte stappe is nie. Al wat jy hoef te weet is wat die regte stap is om nóú te neem,” sê Rolene.

Daniel is ʼn waagkapitaalondernemer, MBA-dosent en skrywer van die topverkoper Dink soos ’n miljardêr, terwyl Rolene, ʼn voormalige Mej. Wêreld, ook ʼn bedrewe transformasieafrigter, skrywer, entrepreneur en sakevrou is.

In die afgelope drie jaar het dié dinamiese paartjie boonop drie ondernemings begin, gehelp om bestaande besighede uit te brei, drie boeke tussen die twee van hulle geskryf, as gassprekers reg oor die wêreld opgetree én tussendeur twee seuns grootgemaak.

Om daagliks hordes balle in die lug te probeer hou én mylpale te bereik is egter nie altyd so maklik of eenvoudig nie. Rolene vertel dat sy ná haar mediese studie nie heeltemal geweet het in watter rigting om te beweeg nie.

“Ek moes besluit of ek iets in die mediese rigting gaan doen en of ek van die wonderlike platform gaan gebruik maak wat die Mej. Wêreld-titel my gegee het. Die wêreld was my oester, maar ek het nie geweet wat om daarmee te doen nie,” sê sy.

Rolene se groot deurbraak het gekom na maande se navorsing, persoonlike groei en afrigting gedurende die tyd waarin sy haar meestersgraad in filosofie en bestuursafrigting by die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool voltooi het. Sy het uiteindelik haar lewensdoel ontdek en reeds duisende individue deur middel van aanlyn kursusse gehelp.

Daniel, wat ten spyte van sy kwalifikasies gesukkel het om werk te kry, moes self eers oor  ʼn paar hekkies kom voor hy sy deurbraak kon maak. Hy vertel dat ʼn seminaar oor lewensveranderende persoonlike groei, finansiële en besigheidsgeheime, hom gehelp het om deur te breek en sukses te bereik.

“Die seminaar is ideaal vir mans, vroue of paartjies wat op soek is na ʼn deurbraak, hetsy in hulle persoonlike of professionele lewe,” verduidelik die Strausse.

Deelnemers wat die Breakthrough Intensive-seminare bywoon, kan uitsien na gesprekke oor die volgende onderwerpe:

  • Denkwyse, hoe om jou lewensdoel te vind en selfvertroue te bou (aangebied deur Rolene)
  • Om soos ’n miljardêr te dink, sowel as ʼn fokus op entrepreneurskap, sakeondernemings, loopbaan en finansies (aangebied deur Daniel)
  • Persoonlike en professionele verhoudings (aangebied deur Rolene en Daniel) en
  • Holistiese welstand (aangebied deur dr. Ledivia Strauss).

Die eerste tweedag-seminaar vind op 24 en 25 September van 08:30 tot 17:00 plaas by Lanzerac-wynlandgoed in Stellenbosch. Op 22 en 23 Oktober word dié seminaar ook by die Hilton Hotel in Sandton, Johannesburg, aangebied. Kaartjies kos R7 950 per persoon en dit sluit etes en drinkgoed in. Reis- en verblyfkoste is nie ingesluit nie. Klik hier om kaartjies vir die Breakthrough Intensive-seminare aanlyn te koop.

  • Luister bo aan die artikel na ʼn onderhoud met Daniel en Rolene Strauss. Die Strauss-egpaar gesels met Maroela Media oor hul Breakthrough Intensive-seminaar wat eersdaags in Stellenbosch en Johannesburg aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Dit help ook as jy een van die mooiste gesiggies in die wereld het. Mense al nie sommer “NEE” antwoord as jy vra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.