Luister: Petrol-blitswet gaan nóg slegter gevolge hê

Sakeliga meen die verbod op verkope van brandstof in draagbare houers is pure onsin en gaan verdere negatiewe gevolg hê. (Argieffoto: AP Photo/Gerald Herbert)

Die departement van minerale bronne en energie het regulasies uitgevaardig wat vulstasies verbied om petrol en diesel in houers te verkoop. Dit sluit enige houers in, selfs dié wat gebruik word om kragopwekkers op te vul of brandstof in te berg.

Die idee is om paniekaankope en opberging van petroleum te probeer afweer ná die onluste in KwaZulu-Natal en die sluiting van groot raffinaderye.

Sakeliga meen hierdie regulasie sal nie in sy doel slaag nie. Dit sal egter die werking van markte en verskeie bedrywe net verder ontwrig.

Weereens sien ons hier ʼn regulasie wat swak deurdink is en lukraak uitgevoer word. Dit getuig vir Sakeliga van ʼn uitgangspunt dat lede van die publiek agentskaplose skaakstukke is wat bloot deur die diktate van politici beheer kan word.

Die komplekse aard van die samelewing en menslike gedrag maak die werklikheid egter anders, en hierdie regulasie kan dinge net vererger. Dit gaan bes moontlik noodgedwonge omseil word. Een ding is seker, as mense ʼn doel voor oë het, vind hulle maniere om daardie doel te bereik – buig of bars – en as mense iets wil opgaar, sal maniere gevind word.

Ondernemings soos tuindienste met petrol- of dieselgrassnyers sal benadeel word. So ook allerlei ander bedrywe en mense wat byvoorbeeld brandstof vir kragopwekkers wil aankoop. Die regulasie moet heroorweeg word. Sakeliga reken sulke ondernemings kan selfs nou interdikte, en eise, teen die departement oorweeg.

Weereens, soos by heelwat vorige wetsvoorstelle, is weinig samesprekings oor die uitwerking daarvan blykbaar oorweeg. ʼn Nugtere oorweging sou sulke denkbare skade mos uitgewys het? Hoekom is die gevolge nie deurdink nie, of gee die departement bloot nie om oor sulke ekonomiese bedrywighede nie?

Met sulke ondeurdagte regulasies moet ʼn mens ook dink hoe mense noodgedwonge hul gedrag sal verander.

By die drank- en tabakverbod het heelwat newe-effekte voorgekom. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kry nie nou net veel minder uit sondebelasting nie, maar skadelike produkte en tuisgemaakte bierbrousels het ook die lig gesien en misdaadnetwerke is deur die verbod verstewig.

Dit is altyd beter dat sulke bedrywighede in die lig van oop markbedrywighede onderneem word – daar waar betroubare vervaardiging, gehalteversekering en aanspreeklikheid bewerkstellig word.

Hierdie draagbarehouer-regulasie is natuurlik geensins koeëlvas nie. ʼn Mens kan bloot jou voertuig gaan volpomp, huis toe ry, ʼn tuinslang of self ʼn pomp gebruik, jou kanne uit jou motor vul en weer gaan ingooi, maar om petrol uit ʼn pyp te suig is uiteraard gevaarlik. Mense kan per ongeluk petrol sluk en is boonop al so vergiftig. Dit sal ook daartoe lei dat vlambare brandstof minder gekontroleerd hanteer word.

Dit is nuwe risiko’s wat die regering nou regstreeks deur die regulasies skep – ʼn presiese voorbeeld van spreekwoordelike “onvoorsiene” gevolge van regulasies. Sulke voorspelbare gedragsaanpassing noodsaak dan weer opvolgregulasies, maar is die uiteinde dan die rantsoenering van brandstof? Wat sal die uitwerking van dit alles dan op die ekonomie wees?

ʼn Beter oplossing is dat die regering die veronderstelde plig om openbare orde te handhaaf uitvoer en die voorsiening van brandstof en verwante voorsieningskettings verseker.

Dit is egter oënskynlik makliker om regulasies uit die heup te vervaardig as om werklik die probleme op te los. Dit is ʼn geval van politici wat wil lyk asof hulle iets doen. Dit is ook die storie van die nou jaar lange inperkingsvlakke wat op onluste uitgeloop het, of daartoe bygedra het, en nog ʼn groter krisis geskep het.

Miskien is die neerpen van onnosele wette en regulasies op so ʼn wyse die laaste stuiptrekkings van mislukkende en ondoeltreffende staatsdepartemente.

Wat die regering nie besef nie, is dat die samelewing baie naby is aan die punt om van die regering te ontkoppel. Dit sal maklik kan gebeur en sonder veel ontwrigtende invloed op die meeste mense se alledaagse lewe. Dit sal gebeur as lede van die publiek bloot onsinnige diktate grootskaals ignoreer.

Dit is reeds die geval dat talle gemeenskappe hul veiligheid tydens die onluste op veel groter skaal op hul eie skouers geneem het, en selfs byvoorbeeld die polisie van ammunisie voorsien het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers, Ontledings, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

nou hoe de deuvel moet ek my 35kva generator wat vas is by die vulstasie kry, gaan julle die elektrisien betaal vir ontkoppel en herkoppel van gen, wat nog van die vervoer. eish, ons het nie gedenk nie

Piet Snot ·

Onnosel wette is wat onbekwame besluitnemers maak. PW het dit self gesê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.