ʼn Koning en sy God

Daniel Lötter (Foto: Facebook)

Luister bo of lees onder!

Onder die gekroonde hoofde van ons tyd is daar een wat vir my, persoonlik, altyd sal uitstaan as ʼn merkwaardige, beginselvaste en navolgingswaardige man – Boudewijn van België. Só beginselvas, inderdaad, dat hy bereid was om sy troon op te gee vir sy oortuiging en daarmee België in 1990 byna in ʼn konstitusionele krisis gedompel het.

Boudewijn word in 1950 onverwags koning toe daar ʼn krisis ontstaan rondom sy vader, koning Leopold III – veral om die wewenaarkoning se tweede huwelike met die burgerlike Liliane Baels en die koning se besoek aan Hitler by Berchtesgaden tydens die Tweede Wêreldoorlog. Terwyl België huiwer op die rand van burgeroorlog, abdikeer Leopold III ten gunste van sy skaam, onvoorbereide 19-jarige seun. België is oortuig daarvan dat die koningskap op ʼn ramp afstuur.

Die koning se huwelik in 1960 lyk ook nie juis belowend nie. Hy trou met die 2 jaar ouer Spaanse edelvrou, dona Fabiola de Mora y Aragon, nadat hulle mekaar slegs 2 keer vlugtig ontmoet het, deur bemiddeling van ʼn gemeenskaplike vriendin, die Ierse oud-non Veronica O’Brien. Dis ʼn ope geheim dat die druk van die regering op die jong koning om ʼn huwelik te sluit die bepalende faktor is. Wat die twee jong mense wel aan mekaar verbind is ʼn gedeelde diep geloof. Hulle begin elke dag tesame met oggendgodsdiens. Wonder bo wonder is dit ʼn besonder suksesvolle huwelik – Boudewijn en Fabiola leer mekaar werklik liefkry. Die enigste tragedie is die feit dat, na 5 mislukte swangerskappe, dit duidelik is dat hulle kinderloos sal bly.

Uit hierdie agtergrond spruit dan ook die feit dat beide die koning en koningin hulle toespits op kwessies om kindersorg, gestremde kinders en mishandelde kinders wêreldwyd. “Omdat ons geen kinders van ons eie het nie,” sê Boudewijn in ʼn Kerstoespraak, “het ek en my vrou al die kinders van ons land en die wêreld as ons eie aanvaar.”

In België dra die koning geen politieke mag nie. Sy enigste rol is as seremoniële staatshoof wat sy ampseed voor die demokraties verkose parlement aflê en as staatshoof alle wette moet teken wat deur hierdie parlement gevoer word.

Belgiese premier Wilfried Martens in 1989 (Foto: AFP)

Op 30 Maart 1990 ontvang premier Wilfried Martens ʼn brief van die koning wat die regering in ʼn lelike dilemma dompel. Die vorige dag is wetgewing, met ʼn meerderheidstem, deur die Belgiese parlement gevoer waarvolgens aborsie op eie versoek tot in die 12de week van swangerskap, en daarna, sou die baba ongeneeslik siek of ernstig gestremd wees, uitgevoer kan word. Die koning skryf dat hy as gelowige nie sy weg oopsien om sy handtekening onder daardie wet te plaas nie en versoek die premier om te soek na ʼn uitweg. Hy beskou, skryf die koning, selfs die ongebore kind as lewe en lewe kom van God – die mens het nie die reg om dit weg te neem nie.

Premier Martens haas hom na die paleis om die koning daarop te wys dat hy nou ʼn kritiese botsing tussen koning en Parlement veroorsaak en dat dit hom sy troon mag kos. “Dit gaan nie daarom, meneer die premier,” sê koning Boudewijn. “Die wet kan ek, op morele gronde, nie met my gewete versoen nie. Ek teken dit nie.”

Nou roep Martens inderhaas ʼn vergadering van die kabinet en opposisieleiers byeen. Ondertussen word ʼn afspraak gemaak met die sekretaris van die koningin om verlangs te verneem of sy nie dalk invloed oor die koning sou kon uitoefen nie. Nooit in al haar jare sou Fabiola so veel as een keer selfs ʼn politieke gedagte opper nie, maar hierdie keer staan sy vas: Sy voel selfs strenger oor die wet as die koning.

Belgiese kardinaal Godfried Daneels in 2013 (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Nou ja, argumenteer premier Martens, as dit dan ʼn godsdienskwessie is, kom ons roep die kerk in. Hy neem die invloedryke kardinaal Godfried Daneels na die paleis. Die kardinaal probeer die koning daarvan oortuig dat hy nie as persoon die wet teken nie, maar as staatshoof en hom sodoende daarvan kan distansieer. Die koning, altyd geduldig en hoflik, luister na hulle en sê toe vir die kardinaal: “Monsignor, as ʼn man en sy God voor ʼn saak staan, moet ʼn man so handel dat sy eie siel nie verlore gaan nie. As die kerk dan anders sê as wat die man oortuig is die wil van God is, dan moet die man na God luister. Selfs al bring u die pous uit Rome om hier voor my te staan – hierdie wet teken ek nie.”

Nou is België op breekpunt. Selfs die ondersteuners van die wet is agter die koning. ʼn Ongekende 77% van die Belgiese volk steun die koning se reg om te weier. Premier Martens en sy ministers kry uitskelbriewe van oraloor: “Julle is ʼn klomp hipokriete, julle verkose politici,” skryf een vrou aan ʼn koerant. “In die parlement stem julle teen die wet, en toe meerderheid daarvoor stem, swaai julle om en nou wil julle die koning dwing om teen sy gewete te handel!” Die Martens-regering wankel. En die koning steek vas.

Die regsmense spring nou in en met ʼn besondere breë interpretasie van artikel 93 van die grondwet: (Indien de Koning in de onmogelijkheid verkeert te regeren, roepen de ministers, na deze onmogelijkheid te hebben vastgesteld, de Kamers dadelijk bijeen. Door de verenigde Kamers wordt in de voogdij en in het regentschap voorzien.) verklaar die regering op die oggend van 4 April dat die koning, uit eie bekentenis, nie in staat is daartoe om te regeer nie. Vir 48 uur, op 4 en 5 April, het België geen koning.

Daar is enorme verdeeldheid in die parlement hieroor. Die Vlaamse Blok stap uit. In die verlede is ʼn koning tydelik onthef as daar van buite bevind is dat hy nie kan regeer nie, soos toe Leopold III deur die Duitsers in ballingskap weggevoer is, maar nog nooit het ʼn koning homself onbevoeg verklaar nie. Boudewijn tree in. Hy is tevrede met die besluit sê hy. Al kos dit hom die troon en die monargie, maar teken sal hy nie.

Op die oggend van 5 April, met België nou onder direkte bewind van die kabinet Martens, word die aborsiewet deurgevoer en deur die hele kabinet onderteken. Om middernag op 5 April word ʼn vreemde persverklaring deur die Paleis van Laeken uitgestuur: Die koning is nou weer in staat om sy pligte op te neem en regeer vanaf middernag weer.

Koning Boudewijn van België en sy vrou Fabiola in 1985 (Foto: BELGA/AFP)

ʼn Konstitusionele kwessie wat België in chaos kon dompel en die val van die monargie kon beteken, is afgewend. Die koningspaar is gewilder as ooit. Tien jaar daarna vra ʼn joernalis tydens ʼn onderhoud aan koningin Fabiola (die koning is ondertussen op 31 Julie 1993 oorlede) of die koning ooit spyt gehad het oor dié aangeleentheid, wat ondertussen bekend staan as die “mini-koningskwestie”.

“Nee, hoegenaamd nie,” antwoord Fabiola. “Daar was ʼn oomblik waar hy getwyfel het oor die belang van stabiliteit en die toekoms van die monargie. Toe het ons saam gebid en toe hy daar opstaan was sy woorde aan my: ‘Ek kan nie. Wat moet ek eenmaal aan God sê wanneer Hy my om ʼn verduideliking vra?’”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Lötter

Daniël Lötter is ‘n boorling van die Bo-Karoo, navorser, opvoedkundige en skrywer van historiese nie-fiksie. Hy is betrokke in die Hoër Onderwys, in besonder in die veld van vaardigheidontwikkeling en het ‘n passie vir die bewaring van kulturele erfenis en die optekening van die geskiedenis.

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nettie ·

Sjoe, dankie Daniel. Dit was nou lekker lees. Ek kry daardie Martens en sy kabinet jammer, want nie net gaan hy moet verduidelik hoe hy sy eie koning so ondermyn het nie, maar hy gaan met die bloed van miljoene babas aan sy hande voor Sy Skepper staan.

Kwikkie12 ·

Dit was nou ‘n sielsverhaal met ‘n les vir ons almal! Hoeveel mense luister nog na die oortuiging van hulle gewete in hierdie dae! Beginselvastheid en eerlikheid, rare eienskappe in 2022!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.