Podlitiek: Bankkaarte, raskaarte en spyskaarte

Opgestel deur die Podlitiek-span

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-02-deur-stevepb-op-pixabay

(Foto: Stevepb/pixabay)

Ná twee weke van tweemanskap is Podlitiek terug vir sy 100ste gewone episode, en dié week is die span, soos in die heel eerste episode, ʼn driemanskap. Met Hermann Pretorius, Paul Maritz en Ernst van Zyl aan stuur van sake, spring hierdie lekker politieke geselsprogram in vyfde rat weg, en hy gee vet al die pad tot die einde toe.

Die eerste storie wat bespreek word, ook die storie wat die grootste deel van vandag se episode in beslag neem, handel oor Suid-Afrika se finansiële posisie. Wat interne finansies betref, gaan dit maar beroerd – met die nuus dat pres. Cyril Ramaphosa se amptelike woordvoerder en haar man ʼn kontrak van meer as R100 miljoen losgeslaan het sekerlik die finale bewys dat Ramaphosa se nuwe daeraad eintlik maar net ʼn rookdraaiery was. ʼn Volgende sport op die geldsakeleertjie, wat al hoe dieper na onder neig, is die lening wat Suid-Afrika by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gekry het, ʼn lening wat natuurlik nie sonder voorwaardes kom nie, en wat hopelik die ANC-kaders tot ʼn bietjie meer verantwoordelikheid sal druk, maar Podlitiek twyfel of dit uiteindelik die geval sal wees.

ʼn Volgende punt wat aan die beurt kom in Podlitiek se virtuele ateljee is Mark Fish, bekende voormalige sokkerspeler, se opmerkings dat hy glo alle lewens maak saak, eerder as die konstante gefokus op slegs swart lewens. Die haat wat Fish se opmerkings uitgelok het, maak natuurlik duidelik waar presies die narratief tans trek, en wat die stand van kollektiewe denke is. Podlitiek se lede betreur, bewonder, en verwonder hulself oor die toedrag van sake.

ʼn Laaste storie is maar weer dieselfde ou punt van restaurante wat so swaar kry, en so agtergelaat word deur huidige maatreëls, dat die Podlitiek-span wonder waarom die regering enigsins voorgee dat hy omgee.

Podlitiek se lede lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.