Podlitiek: Nog ’n rigtinglose staatsrede en Phumzile versteur weer die vrede

Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (Foto: ANA)

Opgestel deur die Podlitiek-span

Daar is, na oorlewering, ’n Chinese welkomsgroet wat lui: “Mag jy in interessante tye leef” – of dit ’n seëngroet of ’n vloekgroet is, sal die ontvanger maar self moet bepaal. Dit kom hierdie week weer duidelik na vore dat Suid-Afrikaners tans in “interessante tye” leef. Met ’n staatsrede wat so hoeka na China die hoof buig, parlementslede wat toeriste te lyf gaan, en Zuma-kaders wat soos die kat weer en weer kom, is dinge alles behalwe vervelig.

Die grootste politieke gebeurtenis was sekerlik die derde staatsrede van president Cyril Ramaphosa.  Siende dat hierdie sy eerste staatsrede ná afloop van die verkiesing was, sou die gemiddelde Suid-Afrikaner sekerlik en heel te verstane iets anders as die vervelige vorige twee staatsredes verwag het.  Wat ons gekry het, was, om die minste te sê, nie wat ons verwag of nodig het nie. Met die debatte rondom die staatsrede wat nog die ganse week sal duur, wys Daniël daarop dat hierdie staatsrede te lig bevind is deur baie.

’n Volgende saak wat om bespreking pleit, is die gedrag en lot van berugte en beleërde DA-parlementslid Phumzile van Damme wat die afgelope week ’n jong man fisiek te lyf gegaan het. Van Damme voer aan dat sy op die een of ander manier getreiter is en het aanstoot geneem met die gedrag van ’n gesin by die Waterfront – waarna sy ’n jong man met haar vuis bygedam(me) het. Die Podlitiek-span vind dit effens vreemd dat sy anders hanteer word deur die media as wat normaalweg in so ’n situasie geskied, en wonder wat die rede daarvoor is.

Die volgende plaaslike storie waarop die span fokus, is oorhoofs maar die ANC. Nie net word die president ondersoek vir geldwassery deur die Openbare Beskermer (OB) nie; die ANC het ook ’n klomp Zuma-kaders in hul midde verwelkom as voorsitters van portefeuljekomitees – wat ’n mens maar net weer laat wonder waarmee op aarde die huidige administrasie van die regerende party besig is.

Vir hul internasionale fokus kyk die span na die Konserwatiewe Party in Brittanje se leierskapstryd wat tans deur Boris Johnson, voormalige burgemeester van Londen, voorgeloop word. Wat hou die moontlikheid van Johnson as eerste minister vir die Verenigde Koninkryk en die huidige sukkelende Brexit-proses in?

In die inligtingsera is dit soms moeilik om goeie en nuttelose inligting van mekaar te skei. Luister Podlitiek om nie net meer te weet nie, maar te weet wat saakmaak!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.