Podlitiek: Velkleur bly maatstaf en honger wag in die pad af

Opgestel deur die Podlitiek-span

Foto: Pixabay

Na ’n week van radiostilte keer Podlitiek terug om die politiek vir luisteraars te ontnonsens.

Wat die werklike verskil tussen vlak 4 en vlak 5 is, blyk niks meer as ’n drie uur-oefengleuf te wees nie, maar met alle grappies vir eers op ’n stokkie, bespreek Podlitiek spitsvondig en skerpsinnig die moontlike uitdagings wat die huidige status quo vir Suid-Afrika inhou. Dié week kyk hulle na die onlangse hofuitspraak waar beslis is dat ras tóg ’n maatstaf mag wees by die toedeling van hulp aan dreigende hongersnood, en hulle spoel die mond uit oor teenkanting teen aanlynklasse.

Solidariteit en AfriForum is verlede week dringend hof toe, om die bepaling dat ras ’n maatstaf in die toedeling van hulp mag wees, te laat skrap. Die hooggeregshof in Pretoria het bevind dat hierdie maatstaf wel gebruik kan word. Ernst maak dit duidelik dat hierdie benadering minderhede kwesbaar, maar ook ontstoke laat, en Paul wonder wat die res van die wêreld teen hierdie tyd van Suid-Afrika dink.

’n Tweede storie waarby stilgestaan word, is die dreigende hongersnood wat oor Suid-Afrika hang soos ’n stormwolk wat dreig om te bars. Dit is so dat lewensverlies altyd swaar weeg, maar die komende lewensverlies as gevolg van die regering se roekelose voortgaan met ’n streng afsondering, laat die Podlitiek-span wonder waarheen daar nou gekeer kan word, siende dat sin praat nie meer sinvol is nie.

’n Derde storie op Podlitiek se radar in vandeesweek se nuussiklus, is die Suid-Afrikaanse Studentekongres, of SASCO soos hulle in die volksmond bekendstaan, se onkundige uitlating dat die akademiese jaar afgelas moet word, omdat nie almal toegang tot aanlyn klasse het nie. Hierdie tipe benadering sal tot nog meer skuld, en nog meer ellende lei, en die Podlitiek-span bespreek uit verskeie hoeke wat die land se universiteitsektor nou te doen staan.

By Podlitiek lewer ons nie net die nuus nie, ons maak dit. Luister Podlitiek.

Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.